ʼn Man van Kaapstad is Vrydag weer in Scottsdene in hegtenis geneem nadat ʼn polisiekaptein hom vroeër gehelp het om te ontsnap.
Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die 24-jarige man is omstreeks 10:00 by sy huis in hegtenis geneem. Hy is Saterdag die eerste keer in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen.
Maroela Media het vroeër berig dat ʼn polisiekaptein glo by die toneel opgedaag het terwyl ander polisiebeamptes besig was om die man in hegtenis te neem. Sy het die inhegtenisneming onderbreek en geëis dat die verdagte vrygelaat word. Toe die polisiebeamptes weier, het sy die verdagte losgeruk en vir hom gesê om weg te hardloop.
Die kaptein is sedertdien in hegtenis geneem op aanklagte van dwarsboming van die gereg, die belemmering van polisiebeamptes om hul werk te doen en hulpverlening aan ʼn verdagte om te ontsnap.