Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die 39-jarige konstabel is Woensdag in hegtenis geneem. Hy het glo omkoopgeld van ʼn verdagte aanvaar wat op aanklagte van intimidasie in hegtenis geneem is.
“Ná ʼn indiepte-ondersoek deur die KZN-teenkorrupsie-eenheid is hy in die Ladysmith-sakesentrum in hegtenis geneem,” het Zwane gesê. Hy het Donderdag in die Ladysmith-landdroshof verskyn en is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Die saak is tot 26 Oktober uitgestel.
Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om enige korrupte polisiebeamptes aan te meld sodat hulle aangekla kan word. “Dit stuur ʼn duidelike boodskap aan ander polisielede dat niemand bo die gereg verhewe is nie,” het sy gesê.