Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Sakeman sterf tydens skietongeluk op kleinhoewe

$
0
0

Tiaan Oosthuizen. Foto: Facebook

Die familie van ʼn sakeman van Bela-Bela in Limpopo is in rou gedompel nadat hy verlede week in ʼn fratsongeluk op ʼn kleinhoewe buite die dorp gesterf het.

Tiaan Oosthuizen (54) is Woensdag dood nadat hy met sy haelgeweer in sy hand deur ʼn wildsheining op die kleinhoewe geklim en die vuurwapen per ongeluk afgegaan het. Die skoot het hom getref en hy is op slag dood.

Adolph Vosloo, Oosthuizen se seun, het aan Maroela Media gesê sy pa was die oggend toevallig van die werk af huis toe om water te gaan haal toe die voorval gebeur het. “My pa was op die uitkyk vir slange op die kleinhoewe omdat hy en my ma onlangs twee hondjies weens slange verloor het,” het hy gesê.

Volgens Vosloo was sy pa omstreeks 9:15 besig om uit die erf te ry toe hy ʼn rinkhals langs die heining gewaar het. Oosthuizen het een van die werkers gevra om ʼn oog op die slang te hou terwyl hy vinnig die huis in is om sy haelgeweer te gaan haal.

“Toe hy by die slang kom, het hy die haelgeweer oorgehaal, maar die slang het onderdeur die heining na die kleinhoewe langsaan geseil. My pa het deur die heining geklim en hy moes die vuurwapen gestamp het of iets en ʼn skoot het afgegaan. Albert [die werker] het ʼn meter weg van hom af gestaan en gesien wat gebeur. My pa was dadelik weg.”

Volgens Vosloo is die voorval nog meer tragies omdat Oosthuizen ʼn bekwame skieter was wat baie ingestel was op vuurwapenveiligheid. Oosthuizen was voorheen in die SAPD en deel van die polisiespeurdiens. Hy was ook ʼn gesoute jagter.

“Ons voel byna beroof deur sy dood. Hy was so bewus van vuurwapenveiligheid en het almal op die jagveld altyd moeilikheid gegee indien hulle nie hul wapens veilig hanteer nie. Hy was die dag seker haastig of het net ʼn simpel fout gemaak dat so iets moes gebeur,” het hy gesê.

Tiaan en Riekie Oosthuizen. Foto: Facebook

Oosthuizen en sy vrou, Riekie, was van 2003 tot 2015 die eienaars van die Marula Mountain Village buite Bela-Bela. Hulle is ook eienaars van ʼn nasionale skuldinvorderingsbesigheid. In 2015 het die egpaar die oord verkoop, omdat hulle ander sakebelange te veel van hul tyd in beslag geneem het. Hulle het egter steeds die kleinhoewe langs die oord gehou waar hulle sedertdien gewoon het. Die egpaar sou vanjaar hul 26ste huweliksherdenking vier.

“My pa was ʼn ongelooflike plat-op-die-aarde-mens. As ek hom in een woord moet opsom, sal dit wees ‘raadgewer’. Hy het baie tyd vir ander mense gehad en het altyd so baie belangstelling in ander getoon. En dit was nie net om voor te gee nie. Hy het werklik belanggestel in ander en wou altyd ander help. Ek dink dit is hoekom mense so lief was vir hom,” het Vosloo gesê.

Volgens Vosloo het honderde mense reeds laat weet dat hulle beplan om ʼn gedenkdiens vir Oosthuizen, wat die komende naweek gehou sal word, by te woon.

Hy het gesê hoewel dit vir die familie baie moeilik is om Oosthuizen se dood te verwerk, vind hulle berusting in hul geloof. “Dit is maar menslik om te vra hoekom en te wonder hoekom so iets moes gebeur. Maar daar is ʼn mate van berusting in die feit dat hy so ’n reguit pad gestap en so ’n goeie mens was en dat hy daarvoor onthou sal word.”

Oosthuizen word oorleef deur sy vrou, Riekie, sy seun Adolph, sy drie dogters, Denise Du Rand, Felecia Lawrence, Pamela Duka Oosthuizen en sewe kleinkinders.


Hof moet oor terminaalsiek-baba se lewe beslis

$
0
0

Foto: Facebook.

Die ouers van ʼn 11 maande oue terminaalsiek-babatjie van Engeland het Maandag vir ʼn tweede keer in ʼn hooggeregshof verskyn om toestemming te verkry om hul kind na Amerika te neem waar hy alternatiewe behandeling kan kry wat moontlik sy lewe kan red.

Die jong Charlie Gard is kort ná sy geboorte met die uiters seldsame Encephalomyopathic mitochondrial DNA depletion-sindroom (MDDS) gediagnoseer. Dié sindroom beïnvloed weefsel in die spiere, lewer, of beide die spiere en brein, en veroorsaak as’t ware dat “foutiewe DNS” in die liggaam nie genoeg krag na die spiere en brein stuur om te beweeg of aksies uit te voer nie.

In Charlie se geval het die siekte sy hart, lewer én niere aangetas. Hy kan ook nie self asemhaal nie en is daarom aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Hy kan ook nie sy oë oopmaak of sy arms of bene beweeg nie.

Chris Gard en Connie Yates, Charlie se ouers, het die hospitaal waar hy gebore is vroeër vanjaar in die hooggeregshof gedaag nadat die dokters gesê het sy masjiene moet afgeskakel word omdat niks meer vir sy gesondheid gedoen kan word nie.

Die egpaar het in die hof aangevoer dat hulle alternatiewe behandeling in die VSA oorweeg wat moontlik sy lewe kan red. Die ouers het gesê die sogenaamde nukleosiedbehandeling, wat nog nie bewys is nie, kan die krag van die DNS moontlik verhoog, wat beteken dat sy toestand kan verbeter.

Die dokters het egter aangevoer dat daar geen bewyse is dat dié behandeling die breinskade wat hy reeds opgedoen het, kan verbeter of sy toestand oor die algemeen verbeter nie, en daarom het die hooggeregshof ten gunste van die hospitaal beslis.

Die ouers het nietemin onlangs ʼn petisie met 350 000 handtekeninge aan die hospitaal oorhandig wat om toestemming vra dat die ouers na die VSA mag reis vir dié behandeling. Hulle het ook al meer as R24 miljoen ingesamel om die behandeling te finansier.

Talle ondersteuners van die saak het buite die hof saamgedrom waar Yates gepraat het voor die verrigtinge begin het. “Hy is ons seun, hy is ons vlees en bloed. Ons voel dit is ons reg as ouers om te besluit om hom hierdie kans op lewe te gee. Daar is niks om te verloor nie; hy verdien ʼn kans,” het sy gesê.

Hoewel die hof reeds beslis het, is die saak terug na die hof verwys nadat twee internasionale gesondheidsorgfasiliteite die hospitaal gekontak het met “nuwe bewyse oor hul voorgestelde eksperimentele behandeling”.

Intussen het die Amerikaanse president, Donald Trump, en pous Franciskus ook die gesin se hoop op alternatiewe behandeling in die media ondersteun.

Yates het aan BBC Radio 4 gesê dié ingrypings het haar seun se lewe tot dusver gespaar, en ook wêreldwyd baie aandag vir die saak getrek.

“As ons klein Charlie Gard kan help, soos ons vriende van die VK en pous Franciskus voorgestel het, maak ons graag so,” het Trump op Twitter geskryf.

Die Vatikaan het ook gesê die pous volg die saak in die media en hoop vir ’n goeie uitkoms.

Geen beslissing is nog deur die hof gemaak nie.

Baba agter erf gevind, polisie vra hulp

$
0
0

Die baba. Foto: Verskaf.

Die polisie in Stutterheim in die Oos-kaap het die hulp van die publiek gevra om die ma van ʼn pasgebore baba op te spoor.

Kapt. Siphokazi Mawisa, woordvoerder van die polisie, het gesê die babaseuntjie is Sondagmiddag omstreeks 16:50 agter ʼn huis in Vriesstraat in Stutterheim gevind.

“Die inwoners van die huis het ʼn baba hoor huil en gaan ondersoek instel. Hulle het die seuntjie langs hul erf aangetref en die polisie gebel,” het Mawisa gesê.

Die baba is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en word tans daar gehou.

ʼn Saak van kinderverwaarlosing word deur die polisie ondersoek.

Die polisie het enigiemand met inligting oor die voorval gevra om die Stutterheim-polisie by 043 683 1996 te kontak.

Pa wat seun (6) aanrand oor kos swaar gestraf

$
0
0
hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Man (43) is tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir die mishandeling van sy sesjarige seun.

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, het Maandag gesê die pa is 6 Julie in die Johannesburg-landdroshof skuldig bevind aan kindermishandeling.

“Die polisie was in Oktober 2016 besig met roetine-misdaadvoorkomingspatrollies in Brixton toe hulle ʼn wenk van beweerde kindermishandeling ontvang. Hulle het hulle na 6de Straat in Vrededorp gehaas en die seun wat uit sy neus en mond bloei aangetref,” het Mbele gesê.

Die pa het hom met sy vuiste aangerand omdat hy ʼn stuk polonie geëet het.

Die kind is na die hospitaal vervoer en die pa is in hegtenis geneem vir kindermishandeling.

Skaduminister fisiek verbied om KZN-onkologie-eenheid te besoek

$
0
0
vuurvreters_hospitaal_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Patricia Kopane, die DA se skaduminister van gesondheid, en dr. Imran Keeka, die DA se woordvoerder van gesondheid, het gesê hulle is Maandag fisiek daarvan weerhou om die onkologie-eenheid in die Addington-hospitaal in KwaZulu-Natal te besoek. Dit kom ná die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal skielik toestemming wat hulle gehad het om ʼn oorsigtelike besoek af te lê, teruggetrek het.

“Toe ons by die onkologie-eenheid van die Addington-hospitaal wou ingaan, is ons ingewag deur gewapende sekuriteitswagte wat ons toegang geweier het,” het Kopane gesê. Sy het bygevoeg dat lede van die parlement ʼn grondwetlike reg het om oorsigtelike besoeke af te lê.

“Dit lyk asof die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid iets wegsteek. Ons trek dit nou in twyfel dat hulle ooit enige verbeteringe aangebring het. Die arrogansie waarmee Sibongiseni Dhlomo, die LUR vir gesondheid in KZN, die besoek hanteer het, is totaal onaanvaarbaar. Dit is as gevolg van sy beweerde wanbestuur dat honderde kankerpasiënte dood is,” het Kopane gesê.

Die DA het weereens Dhlomo se kop geëis en bygevoeg dat hulle verskeie moontlikhede ondersoek om seker te maak hy ry aan die pen.

Maroela Media het vroeër berig die DA het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se verklaring dat die verslag oor KwaZulu-Natal se onkologiekrisis afgehandel is en binnekort gepubliseer sal word, verwelkom.

“Die verslag het bevestig wat die DA nog die heeltyd sê: dat toerusting wat noodsaaklik is vir ondersoek en behandeling óf gebreek is óf glad nie beskikbaar is nie, dat daar ʼn tekort is aan personeel en dat daar ʼn reuseagterstand is wat daartoe lei dat behandelbare kankers vinnig ongeneeslik word,” het Keeka gesê. “Ons bedank die MRK dat dit een van die min hoofstuk 9-instansies is wat klaarblyklik nie deel is van die staatskaping nie.”

Renosterstropers vas ná skietgeveg met polisie

$
0
0

Argieffoto

Twee verdagtes (33 en 44) is Maandag in Nelspruit vasgetrek ná ʼn hewige skietery tussen die verdagtes en die polisie.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê lede van die honde-eenheid het ‘n wenk ontvang van verdagtes wat glo met ʼn rooi voertuig van KwaZulu-Natal na Mpumalanga gereis het.

“Die voertuig is op die R40-pad tussen Barberton en Nelspruit gewaar,” het Sekgotodi verduidelik.

Die honde-eenheid het die voertuig gestop waarna vyf verdagtes uit die voertuig gespring en op die polisie losgebrand het.

Die voertuig is ondersoek en daar is ʼn swart renosterhoring wat 4,86 kilogram weeg gevind wat onder die voertuig met koperdraad vasgemaak was. Die beraamde straatwaarde van dié horing is R490 000.

“Ons glo die horing is by Ulundi in KwaZulu-Natal gestroop.

Die verdagtes sal Dinsdag voor die Nelspruit-landdroshof verskyn.

Minister onthul konflik van belange by Prasa

$
0
0

Argieffoto

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het onthul dat vier werknemers van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) geïdentifiseer is dat hulle kontrakte van meer as R100 miljoen aan maatskappye toegeken het waarvan hulle verbintenisse met die direkteure het.

Maswanganyi het in ʼn parlementêre antwoord, wat Maandag gepubliseer is, gesê die vier werknemers was direk betrokke by die verkryging van dienste terwyl daar konflik van belange by die saketransaksies was. Hierdie werknemers is Sonwabile Kondlo, ʼn senior ingenieur by Prasa Tech, Maishe Bopape, ʼn senior bestuurder by die voorsieningskettingbestuur by Prasa Rail, Nongabisaya Mareko, ʼn uitvoerende bestuurder, en Carol Shabalala, ʼn senior bestuurder.

“Prasa het ontdek daar was ʼn konflik van belange met sekere werknemers met betrekking tot sekere kontrakte,” het die minister gesê.

In Kondlo se geval is daar ʼn kontrak van R8,6 miljoen in die 2014/15 finansiële jaar aan Batalala Construction CCC toegestaan om “nuwe dreinering by die Pretoria- en Barrack-stasies aan te bring”. Kondlo en die direkteurs van Batalala is vennote by ʼn ander maatskappy, Tenemane Engineers CC. Volgens Maswanganyi se parlementêre antwoord was Kondlo betrokke by die evaluering van die toekenning van die kontrak.

Bopape het aanbeveel dat ʼn kontrak ter waarde van R50 miljoen aan Mabule Rail and Infrastructure (PTY) LTD toegeken word om ad hoc-herstelwerk en tegniese ondersteuning vir spoorlyninfrastruktuur te doen. Bopape en die diensverskaffers was saam direkteure van Taboo Trading 154.

Mareko was betrokke by die aanstelling van die maatskappy Mbokodo om herstelwerk en tegniese ondersteuning aan Prasa Rail en Shosholoza Meyl te bied. Die kontrak was ter waarde van R22 miljoen. Mareko en die direkteur van Mbokodo is saam direkteure van BNM Funerals.

Shabalala was betrokke by die evaluering van voorleggings vir die ontwikkeling van die Women in Rail-databasis. ʼn Kontrak van R20 miljoen is aan Women in Motion Investments (PTY) LTD toegeken. Volgens Maswanganyi was Shabalala in ʼn vennootskap met Women in Motion Investments se direkteur by Evilox 372.

Beide Mbokodo en Women in Motion Investments se kontrakte is in die 2015/16 finansiële jaar aan hulle toegeken.

Die DA, wat die parlementêre vraag ingedien het, het die onthullings as “ʼn growwe misbruik van mag” beskryf. DA-LP Manny de Freitas het gesê die party sal daarop aandring dat daar dringend dissiplinêre stappe teen die betrokke Prasa-werknemers gedoen word.

“Meer as R100 miljoen is as gevolg hiervan onregmatig toegeken. Hierdie kontrakte moet onmiddellik gekanselleer word en alle moontlike pogings moet aangewend word om die geld terug te kry,” het De Freitas gesê.

“Openbare fondse wat gebruik kon word om miljoene arm Suid-Afrikaners te help, is skandelik aan staatsamptenare uitbetaal wat sommer self by die tenderprosesse betrokke was. Dit is onaanvaarbaar en ʼn skreiende misbruik van die publieke vertroue wat in amptenare van die staat geplaas word.”

AfriForum rig ‘simboliese monument’ op vir Zuma

$
0
0

Foto: AfriForum

AfriForum en die burgerregte-organisasie se jeugvleuel het vandag ’n simboliese monument opgerig vir die 783 korrupsieaanklagtes teen pres. Jacob Zuma by Groot Marico in Noordwes.

Dié optrede kom nadat die provinsiale regering in Noordwes onlangs met bouwerk aan ’n monument vir Zuma begin het wat sowat R1,7 miljoen gaan kos.

Die Noordwes-regering het op dié kleiner monument besluit nadat sy planne vir ’n 6 meter hoë standbeeld ter waarde van R6 miljoen vroeër weerstand van opposisiepartye en die gemeenskap ontlok het.

AfriForum het vroeër ná die aankondiging van die aanvanklike groot beeld ingegryp en ’n PAIA-aansoek ingedien om sekere inligting aan te vra rakende die oprigting van die beeld.

Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes, meen die organisasie se ingryping het direk daartoe gelei dat die projek gestaak is.

“Ons is vandag weer hier om kapsie te maak teen Noordwes se planne om steeds ’n monument vir Zuma op te rig. Zuma het nog niks goeds vir die land beteken nie en die geld wat op ’n standbeeld vir hom gemors gaan word, kon eerder gebruik geword het om infrastruktuur in die dorp te herstel en dienste aan die gemeenskap te lewer.”

Verteenwoordigers van AfriForum en AfriForum Jeug is kort nadat hulle die simboliese monument aanmekaar gesit het deur omstanders gedreig dat hulle aangerand en hul toerusting gebreek sal word. Die plakkate en banier is daarna verbrand.

Wat die nuwe monument vir Zuma en 44 ander rekrute van Umkhonto weSizwe betref, is die platform reeds gebou.

’n Woordvoerder van die departement van kuns, kultuur en tradisionele sake in Noordwes, het vroeër gesê die monument sal die vorm van ’n staalstruktuur met ’n vuurbal wees waarop die gesig van Zuma is.

Die idee om ’n monument vir Zuma op te rig, is klaarblyklik dié van Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, wat ’n stoere ondersteuner van die president is.

Terwyl inwoners van Groot Marico nie veel dink van die beoogde monument nie, meen die departement dit moet toerisme bevorder.

Oosthuizen meen die oprigting van ’n standbeeld is totaal onvanpas gegewe die hoë vlakke van korrupsie en armoede in die land.

“’n Standbeeld van pres. Zuma kan nie opgerig word nie omdat hy onder meer 783 klagtes van bedrog en korrupsie teen hom het, in ’n Nkandla-skandaal betrek is waar miljoene rand onregmatig aan sy huis bestee is en hy verantwoordelik is vir ’n enorme hoë werkloosheidsyfer wat tot haglike omstandighede en armoede bydra.”

Benewens Mahumapelo se steun vir Zuma, lê die rede waarom die standbeeld juis by Groot Marico opgerig word, waarskynlik ook in die geskiedenis.

Die verbanning van die ANC in 1960 het tot die stigting van uMkhonto weSizwe (MK), die gewapende vleuel van die ANC, gelei. Zuma het aan sabotasie-aksies van MK in Natal deelgeneem en beplan om Suid-Afrika vir militêre opleiding in die buiteland te verlaat. MK het in 1963 beplan om 45 nuwe rekrute vir opleiding te stuur waarvan Zuma een was.

Die plan was dat hulle die sogenaamde “Vryheidstrein” na Zambië sou neem. Die veiligheidspolisie het egter van die plan te hore gekom en ’n operasie beplan om hulle in hegtenis te neem. In Junie 1963, toe die groep waarvan Zuma deel was na Botswana op pad was, is hulle in Groot Marico naby Zeerust gearresteer. Zuma is 90 dae alleen by die polisiestasie in Hercules aangehou.


Man krap in asblik, vind babaseuntjie

$
0
0

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

’n Pasgebore babaseuntjie is dood in ’n asblik buite ’n kompleks in Honeyguideweg in Douglasdale, Fourways, aangetref.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê hul paramedici het omstreeks 10:10  Maandagoggend op die babaseuntjie afgekom toe veiligheidswagte van die kompleks paramedici gekontak het.

“Die baba is in ’n lap en ’n plastieksak toegedraai. Niks kon vir die baba gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring verduidelik.

Die baba is glo gevind deur ʼn man wat in die asblikke gegrawe het.

Die polisie ondersoek die saak.

Soektog vir Pta se nuwe metropolisiehoof begin

$
0
0
solly-msimanga-04

Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro Foto: Facebook

Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester van Pretoria, het Dinsdag ʼn beroep op gekwalifiseerde kandidate gedoen om aansoek te doen om Tshwane se metropolisiehoof te wees.

Die volg nadat die voormalige hoof van die Tshwane-metropolisie, Steven Ngobeni, sy bedanking by die burgemeester ingehandig het te midde van spekulasie van “politieke inmengery”.

Msimanga het Ngobeni versoek om die tuig neer te lê nadat Msimanga vroeër vanjaar verhoed is om sy stadsrede te lewer in dié stad wat nou onder leiding van die DA staan. Ngobeni het glo geweier het om die metropolisie se magte te gebruik om die oproerige ANC-raadslede in bedwang te bring. Ngobeni het sowat drie maande gelede sy bedanking ingehandig en Msimanga het dit in April aanvaar.

Msimanga het Dinsdag Ngobeni se pos begin adverteer.

“Burgemeester Msimanga is bly om aan te kondig dat daar tydens die laaste raadsvergadering besluit is om ʼn permanente aanstelling te maak vir die hoof van die Tshwane-metropolisie,” het Samkelo Mgobozi, die burgemeester se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. “Daar is destyds ingestem dat dit in belang van die metro sal wees om ʼn nuwe hoof aan te stel om die stabiliteit te bring wat die metropolisie dringend benodig.”

Die burgemeester het alle kwalifiserende kandidate versoek om vir dié “kritieke” pos aansoek te doen, waarna die raad die mees geskikte kandidaat om die stad se inwoners veilig te hou, sal aanstel.

Die Viljoens se eenvoudige gebed vir gesinne met spesiale behoeftes

$
0
0

Jana, Kyna, Leo, Abigale, Hannes en Gian Viljoen geniet die wintersneeu in die VSA. Foto: Verskaf.

Jana en Hannes Viljoen se boodskap van hoop is dat ouers van kinders met spesiale behoeftes daarin sal slaag om die glorie in die gebrokenheid van hul kinders te sien.

“God het die manier om soms die mooiste skatte in die vreemdste pakkies te versteek. Dit is soos die heuningkoek in die karkas van die leeu, of die Redder van die wêreld wat in ʼn stal gebore word. Dit is egter beslis nie so romanties soos wat Kerstyd uitgebeeld word nie,” sê Jana.

Sy wou soms mense behoorlik te lyf gaan wanneer hulle vir haar sê sy is ʼn “spesiale soort mens” omdat drie van haar vier kinders spesiale behoeftes het. Kyna het op 13 maande ʼn pediatriese beroerte gehad wat haar ʼn hemipleeg gemaak het, verlam aan die een kant van haar lyfie. Gian, hul tweede oudste seun, is met Down se sindroom gediagnoseer en Leo is op die outistiese spektrum. Abigale is ʼn normale agtjarige dogtertjie.

“Niks het my spesiaal gemaak nie en ek het definitief nie hierdie pad gekies nie. Tog, ná ʼn paar jaar op hierdie pad het ek besef ons ís spesiaal. Die Here weet beslis aan wie hy hierdie spesiale kinders kan toevertrou.

“Al het dit nie toe so gevoel nie, besef jy jy het genade en ʼn wonderlike guns om hierdie pad te loop. Ja, daar is pyn en seer, en jy as ouer moet daarmee worstel en leer om dit te verwerk, maar jy het besonderse guns.”

Jana en Hannes toer tans deur Suid-Afrika om hul ervaring en hoop met ouers van kinders met spesiale behoeftes te deel.

Die Viljoens het in 2014 na die VSA geëmigreer sodat hulle heeltyds naby ʼn organisasie in Philadelphia kan wees wat ouers toerus om hul kinders met spesiale behoeftes self te rehabiliteer.

“Ons het meer resultate in drie maande in dié program gesien as ná vier jaar van konvensionele terapie. Dit het ons laat besluit om permanent na Amerika te verhuis, want dit het net nie vir ons sin gemaak om die heeltyd tussen die twee lande te vlieg nie,” sê Jana.

Maroela Media het in 2014 die eerste keer met die Viljoens gesels oor die uitdagings en vreugdes van hul besonderse gesin.

Volgens Hannes het hy egter in die laaste drie jaar in die VSA sy kinders weer werklik teruggekry. “My kinders se gestremdhede het hulle as’t ware weggeneem. Leo is nou tien jaar oud, maar ons verhouding met mekaar is eintlik net vier jaar oud. Kyna kan nou skool toe gaan – ek kan haar nou vrylaat want sy is nie meer my hemiplegie nie – sy is 11 jaar oud en ʼn tienermeisie.”

Jana en Hannes het lank daaroor gedroom om die program van die Family Hope Center met Suid-Afrikaanse gesinne wat dieselfde uitdagings het te deel.

“Dit is werklik ʼn hoogtepunt om nou saam met dié organisasie in Afrika te kan werk. Ons het by hul kantore ingestap en hulle het gesien ons is ernstig oor hierdie droom ten spyte van wat mense gesê het, onder meer oor die rand-dollar-wisselkoers.

“Ons het ons harte gevolg en die guns van die Here beleef,” sê Hannes.

Die Family Hope Center het in Februarie die eerste kursus in Suid-Afrika kom aanbied en 70 gesinne se lewens is verander.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig oor Pippie Kruger asook oor Sanmari Smith en Wilma Steyn wat kinders met spesiale behoeftes het en wat die organisasie se program tans volg. Dié ouers praat ook net met lof van die program.

viljoen-gesin-02

Hannes en Jana Viljoen toer tans deur Suid-Afrika om hulle ervarings en storie van hoop te deel. Foto: Verskaf.

“Ek dink hierdie was een van my trotste oomblikke. Die seer en pyn wat ons as gesin beleef het, het iets mooi geword wat ander gesinne kan help. Ons uitdagings het vir ander mense ʼn seën geword.”

Hannes het besluit om ʼn ondersteuningsprogram vir die Family Hope Center se rehabilitasieprogram te skryf. Hy het begin nadink oor die soort ondersteuning wat hulle as gesin nodig gehad het. Hy het ook vir agt maande lank met die gesinne in Suid-Afrika gesels om uit te vind wat hulle behoeftes was.

“Ons het deur die Brain Child Fund mense gehelp om geld in te samel sodat hulle die Family Hope Center in Amerika kon besoek, maar het vinnig besef dat hierdie gesinne baie meer as net geld nodig het,” verduidelik hy.

“Geestelik is die ouers dikwels kwaad oor wat gebeur het, of verstaan nie hoekom hulle kind so is nie – mense weet nie hoe om die situasie wat aan hulle uitgedeel is te hanteer nie.

“Op ʼn emosionele vlak is daar dikwels skok en trauma. Die ouers vries behoorlik en kan nie planne maak hoe om aan die anderkant uit te kom nie.

“Dan is daar net fisieke behoeftes, soos wat om met jou ander kinders te maak as jy skielik na die hospitaal toe moet jaag.

“Boonop is die sorg vir ʼn kind met spesiale behoeftes byna onbekostigbaar duur. Dit is dikwels hoekom ouers skei; die druk is eenvoudig net te groot.”

Dit het Hannes se missie en passie geword om ʼn ondersteuningsprogram te skryf wat ouers leer dat hulle nie in isolasie in die huis kan sit nie. Sy program bemagtig ouers en professionele mense wat met hierdie kinders werk om hulle te help genees.

“Ons verkondig beslis nie ʼn alternatief wat iemand uitsny nie. Dit is span wat hierdie ouers en kinders moet genees en dit sluit dokters, arbeids- en fisioterapeute in,” sê hy.

“Mense sien dikwels ʼn gestemdheid as ‘dit is nou maar hoe dit is’. Ouers gee hulself so maklik oor aan al die gevoelens van skuld, vrees en skande. Boonop is hulle verskeur tussen hulle verpligting om geld te verdien om al die uitgawes vir ʼn kind met spesiale behoeftes te dek en om tyd saam met hul kind deur te bring.

“Ek wil vir hierdie ouers sê ʼn mens bestaan uit drie fasette – geestelik, vleeslik en ʼn sielsdimensie – jou kind se besering is net in een van daardie dimensies.

“As jy in jou kind met spesiale behoeftes se ogies kyk, maak nie saak wat die diagnose is nie, sal jy sien daar is ʼn hartjie daar binne wat net liefde wil hê.

“Jou kind wil erken word omdat hy of sy daar is en nie vir wat hy of sy kan doen nie want dit nie wat ons waarde bepaal word nie. Jou kind is deur God gemaak en God maak nie fout nie.

“Partykeer moet ons ingesteldheid van wat perfek of normaal is uitgedaag word. Dit is ʼn kwessie van moenie iets op sy baadjie takseer nie want daar is soveel meer in jou kind met spesiale behoeftes, jy moet net bereid wees om daarvoor te gaan delf,” het Hannes bygevoeg.

  • Jana en Hannes Viljoen deel hulle gesin se storie by verskeie geleenthede regoor Suid-Afrika van 11 Julie tot 1 Augustus. Toegang is gratis. Besoek die Brain Child Fund se Facebook-blad vir meer inligting oor die geleenthede.
  • Die Brain Child Fund en die Family Hope Center hou ʼn opleidingsgeleentheid vir ouers en professionele mense wat met kinders werk van 29 September tot 1 Oktober in Sandton. Besoek Brain Child Fund se webwerf vir meer besonderhede oor die geleentheid.
  • Luister gerus ook na die onderhoud bo-aan hierdie artikel. Jana en Hannes Viljoen gesels met Esté Meyer Jansen oor die vreugdes wat hulle ervaar het sedert hulle laaste kuiertjie in 2014 in Maroela Media se ateljee.

Nóg ʼn fetus in asblik gevind

$
0
0

Argieffoto

Nog ʼn fetus is Maandagoggend in ʼn asblik aangetref.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die fetus is omstreeks 07:00 in ʼn asblik buite ʼn huis in Corneliusweg in Weltevredenpark, in die weste van Johannesburg, gevind.

“Veiligheidswagte het ons gekontak,” het Meiring gesê. Die polisie ondersoek die saak.

Dit kom slegs ure nadat ’n pasgebore babaseuntjie dood in ’n asblik buite ’n kompleks in Honeyguide-weg in Douglasdale, Fourways, gevind is.

Dié baba is ook Maandagoggend in ʼn asblik aangetref nadat sekuriteitswagte paramedici gekontak het.

“Die baba is in ’n lap en ’n plastieksak toegedraai. Niks kon vir die baba gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.

Dieretuin-staking: Stakers rand werkers aan

$
0
0

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria se kabelkarretjie. Foto: Phillip Bruwer

Sommige werkers wat die naweek te midde van die skoolvakansie op ʼn staking by die Nasionale Dieretuin in Pretoria gegaan het, het Maandag hul protesaksie voortgesit.

Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, het gesê stakende werkers het Maandag nie-stakende werkers aangerand. “Hulle het ook nie-stakende werkers geïntimideer en verhoed om op die perseel in te kom. Daar was ook sake van beskadiging aan eiendom aangemeld en vullis is by die dieretuin se ingang gestort,” het Allenby gesê.

“Die bestuur van die dieretuin wil inwoners gerusstel dat die beste gedoen word om die welstand van die diere en die veiligheid van ons besoekers te verseker.” Allenby het gesê daar is ʼn beperkte impak op besoekers en bedrywighede in die dieretuin.

Die dieretuin het ʼn beroep op die publiek gedoen om tydens die staking geduldig te wees.

Personeellede wat verbonde is aan die National Trade Union Congress (NTUC) het Saterdag om 12:00 begin staak. Die dispuut hou verband met ʼn ooreenkoms wat in 2009 onderteken is tussen die dieretuin en verskeie vakbonde wat betref ʼn sewedag-werkweek. NTUC eis nou dat dié ooreenkoms gekanselleer word en dat werknemers oortydbetaling moet ontvang wanneer hulle oor naweke werk.

Kragtens die ondertekende ooreenkoms word Saterdae beskou as normale werkdag en werknemers ontvang oortydbetaling vir Sondae.

Hof sê oor verpleegster se plasing

$
0
0

Dané Hertz. Foto: Verskaf

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag uitspraak gelewer rakende die departement van gesondheid se beweerde versuim om ʼn afgestudeerde verpleegster meer as ses maande nadat sy haar studie voltooi het, by ʼn hospitaal te plaas.

Die vakbond Solidariteit het namens hul lid, Dané Hertz, ʼn oorwinning behaal toe die hof beveel het dat sy binne 30 dae in ʼn gemeenskapsdiensposisie geplaas moet word.

“Dit volg nadat die departement en die minister van gesondheid sedert Januarie 2017 hul wetlike plig versuim het om Dané in ʼn gemeenskapsdiensposisie te plaas,” volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke.

Solidariteit het op 15 Junie die minister van gesondheid en die departement in ʼn skrywe versoek om Dané binne sewe dae te plaas. Hulle het in gebreke gebly om gehoor te gee aan die versoek.

Volgens Van der Bijl skep die hofbevel ʼn belangrike presedent wat in soortgelyke omstandighede toegepas kan word. “Dit word duidelik dat die publiek se geduld met die staat se blatante nalatigheid om aan sy statutêre verpligtinge te voldoen, begin opraak. Ons beplan om binnekort nog soortgelyke aksies teen die departement van gesondheid te loods.”

Volgens Van der Bijl het die hof beveel dat Hertz geplaas moet word by die kliniek waar sy aanvanklik aansoek gedoen het. “Ons is baie verheug oor die uitspraak van vandag, maar dit is hartseer dat ons sover moes gaan net om die minister en departement van gesondheid te verplig om aan hul statutêre verpligtinge te voldoen,” het Van der Bijl gesê.

Vrou sterf ook ná man huis aan die brand steek

$
0
0

Rudi en Anita Prinsloo. Foto: Facebook

Anita Prinsloo, die vrou wie se man Woensdagaand die gesin se huis in Rustenburg tydens ʼn gesinsrusie aan die brand gesteek het, het Dinsdag aan haar brandwonde beswyk.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg, het aan Maroela Media bevestig Anita is omstreeks 11:00 in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg dood. Haar dood bring die dodetal van dié tragiese voorval op drie te staan.

Maroela Media het vroeër berig Anita se man, Rudi Prinsloo, het Woensdagaand ná ʼn rusie met Anita gery om petrol te gaan koop. Hy het teruggekeer en met sy motor deur die valhek van die veiligheidskompleks in die Cashan-woonbuurt gery. Rudi het daarna die gesin se huis met petrol besprinkel voordat hy dit aan die brand gesteek het.

Rudi het in die huis doodgebrand. Anita se broer en skoonsuster, Jacques en Adele Bezuidenhout, en twee kinders was ook in die huis ten tyde van die voorval. Jacques het ernstige brandwonde opgedoen en het Saterdag in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die Bezuidenhout-egpaar se oudste seun, Juan (19), het erge brandwonde aan sy bene opgedoen en is volgens Augoustides in die hospitaal opgeneem waar veloorplantings op sy bene gedoen is. Anita se seun uit ʼn vorige huwelik het geringe brandwonde aan sy hande opgedoen.

Volgens Augoustides word ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen met betrekking tot Rudi se dood en word sake van moord en poging tot moord ondersoek.


Soektog na Kruger-vier duur voort

$
0
0

Argieffoto: popista.com

Die soektog duur voort na vier jong leeumannetjies wat uit die Krugerwildtuin in Mpumalanga ontsnap het.

Dr. Markus Hofmeyr, SANParke se hoofveearts, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê beamptes van SANParke en die Mpumalanga-park-en-toerisme-agentskap (MPTA) het sedert Maandag alle pogings aangewend om die roofdiere op te spoor en selfs deur die nag gewerk om die leeus te lok en te vang.

“Met eerste lig is alle poging hervat om die leeus, of enige tekens van hulle, op te spoor. As hulle opgespoor word, sal ʼn gesamentlike poging aangewend word om hulle weer te vang,” het Hofmeyr gesê.

Volgens Hofmeyr is die leeus vermoedelik tans in ʼn onbewoonde, digbeboste en rotsagtige berggebied suid van die Krokodil-ravyn.

“Die MPTA het baie ervare personeel wat die situasie hanteer en saam met SANParke word alle pogings aangewend om die leeus op te spoor en te vang.”

Hy het gesê daar is spanne in die lug en op die grond wat na die leeus soek.

Hofmeyr het gesê dit is belangrik om kennis te neem dat die leeubevolking eksponensieel gegroei het en ʼn kenmerkende faktor is vir leeumannetjies om vir nuwe gebiede in die park te soek.

Hy het gesê dit is hoogs onwaarskynlik dat die vier leeus wat Sondag ontsnap het, dieselfde is as dié wat twee maande gelede in die Komatipoort-omgewing uitgekom het.

Maroela Media het vroeër berig die leeus het vermoedelik Sondagaand uit die wildtuin ontsnap en is by Matsulu, ʼn nedersetting buite die park, gesien. Die nedersetting is sowat 40 km oos van Nelspruit.

Dit volg skaars twee maande nadat vyf jong leeumannetjies by die Komatipoort-omgewing uit die wildtuin ontsnap het, nadat hulle vermoedelik deur ander dominante mannetjies uit die reservaat verdryf is. Vier van dié leeus is kort daarna gevang en veilig teruggeneem na die wildtuin, een het egter alle spoorsnyers ontduik en is vermoedelik self terug in die reservaat in.

Parool ná gru-plaasmoord: ‘Hulle verdien dit nie’

$
0
0

John en Bina Cross. Foto: Verskaf

WAARSKUWING: Die berig bevat grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Net meer as 17 jaar nadat John (78) en Bina (76) Cross wreed op hul plaas in die Gravelotte-omgewing in Limpopo aangeval en ure lank gemartel is voordat hulle doodgeskiet is, kan hul moordenaars dalk binnekort op parool vrygelaat word.

Ephraim Mokwena en Michael Malamela is destyds skuldig bevind aan die wrede moord op die Cross-egpaar. Die brutale aard van die moorde het destyds opslae gemaak en daar is selfs in die buiteland oor die aanval berig.

Die egpaar is op 16 April 2000 aangeval toe hulle die middag omstreeks 15:00 van die kerk af by die huis gekom het. Mokwena en Malamela het reeds die oggend by die huis ingebreek en die egpaar ingewag. Malamela het voorheen vir die Cross-egpaar gewerk.

Volgens Lita Fourie, die egpaar se dogter, het die aanvallers teen die tyd wat haar ouers by die huis gekom het, reeds John se vuurwapens in die hande gekry.

Hulle het tydens die aanval, wat ongeveer vyf uur lank geduur het, kookwater oor Bina uitgegooi en haar drie keer geskiet. Sy het egter nie onmiddellik gesterf nie, maar het op die vloer bly lê waar sy doodgebloei het.

John is aanvanklik een keer in sy bobeen geskiet en herhaaldelik geslaan en geskop. Hy is kort daarna nog ʼn keer met ʼn .22-geweer geskiet. Hy is later in die bad vasgemaak, waar ʼn spuitkraan gebruik is om vuurwarm water in sy keel af te spuit. Volgens Fourie het ʼn nadoodse ondersoek getoon dat die water John inwendig erg gebrand het en dat sy maag vol water was. Hy is uiteindelik met ʼn .303-geweer in die bad doodgeskiet.

Mokwena en Malamela het vuurwapens, juweliersware en verskeie huishoudelike items geroof voordat hulle met die egpaar se motor op die vlug geslaan het. Hulle is die volgende oggend in hegtenis geneem. Mokwena en Malamela is elk tot 50 jaar tronkstraf gevonnis en word tans in die gevangenis in Thohoyandou aangehou.

Fourie (59) het Dinsdag aan Maroela Media gesê ʼn maatskaplike werker het haar in Mei gekontak om haar vrae te vra in aanloop tot Mokwena en Malamela se aansoek om parool. “Sy het my gevra of ek hulle kan vergewe en ek het gesê nee, ek kan nie. Hulle is gewoontemisdadigers en verdien nie om op parool vrygelaat te word nie. Hulle moet elke dag van hul vonnis agter tralies uitdien,” het Fourie gesê.

Sy sê sy glo nie dat haar ouers se moordenaars in die gevangenis gerehabiliteer is nie. “Jy sien dit so baie met hierdie aanvalle dat die mense wat in hegtenis geneem is oortreders is wat vroeër op parool vrygelaat is en dan net dadelik weer terugkeer na misdaad. Hulle word nie daar binne [in die gevangenis] gerehabiliteer nie,” sê sy.

“Tydens die verhoor het een van die speurders vir Michael [Malamela] in die hof gesê hy gaan baie lank sit vir wat hy gedoen het. Toe antwoord hy: ‘But at least I’m alive’. Daar is geen berou by hom vir wat hy gedoen het nie.”

Fourie sê dat Mokwena en Malamela verskeie briewe oor die jare aan haar geskryf het waarin hulle pleit om vergifnis. Sy het ook die twee mans in 2006 in die Kutuma Sinthumule-gevangenis in Louis Trichardt, waar hulle toe aangehou is, besoek om self met hulle te praat. “Daar is dinge wat ek wou weet wat nie in die hof gesê is nie. Ek wou hulle hierdie goed vra. Ek wou weet wie het vir wie geskiet. Ek wou weet wat van die goed geword het wat uit die huis verdwyn het, maar nooit gevind is nie. Ek wou weet hoekom hulle my ouers so moes martel,” sê sy.

Sy sê dat sy nooit ʼn werklike antwoord uit die twee mans kon kry oor die rede vir hul dade nie, behalwe dat hulle geld en vuurwapens gesoek het en onder die invloed van alkohol was toe hulle die aanval uitgevoer het.

“My pa was ʼn aanklaer en ek het in die hof grootgeword. Dit het my gemotiveer om elke dag van daardie verhoor in die hof te sit en die besonderhede van die gebeure aan te hoor. Ek weet as so iets met een van my ouers se kinders moes gebeur, sou my pa dit nie gelos het nie. Daarom sal ek dit ook nie los nie. Michael en Ephraim mag nie op parool vrygelaat word nie.”

Fourie het ná haar ouers se moord die Tabita-organisasie begin, ʼn organisasie wat ondersteuning aan die slagoffers van plaasaanvalle bied.

Zandile Mabunda, kommunikasiebestuurder van die Thohoyandou-gebied van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het aan Maroela Media bevestig dat Mokwena en Malamela in aanmerking kom om voor die korrektiewe toesig- en paroolraad te verskyn.

Mabunda wou egter nie bevestig wanneer die twee mans voor die raad sal verskyn nie en wou ook nie bevestig of die twee mans al voorheen in aanmerking gekom het vir parool nie. Sy het gesê volgens departementele beleid mag spesifieke besonderhede van individuele oortreders nie bekendgemaak word nie.

“Die proses vir die twee oortreders om voor die [paroolraad] te verskyn sluit egter slagoffer-oortreder-deelname in wat die DKD in staat stel om ʼn ingeligte besluit te neem oor die oortreders se plasing op parool,” het sy gesê.

Gru-vonds in verlate Jhb-huis

$
0
0

Argieffoto

ʼn Vrou se liggaam is in ʼn verlate huis in Johannesburg aangetref.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die huis is in Bompasweg in Dunkeld in Johannesburg. “Dit is ʼn leë en verlate huis in ʼn residensiële gebied.”

“Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ons na die toneel ontbied. Paramedici het die liggaam van die vrou in die huis aangetref,” het Meiring gesê.

Paramedici het die vrou ondersoek en vasgestel dat sy ʼn wond aan haar bors sowel as aan haar nek gehad het.

“Haar ouderdom is ongelukkig onbekend aan ons,” het Meiring gesê. Hy het bygevoeg dit is onbekend hoe lank die vrou dood was voordat sy gevind is.

Die polisie ondersoek die saak.

Vrou steek haarself glo aan die brand

$
0
0

Argieffoto

ʼn Vrou is in ʼn kritieke toestand na ʼn Wes-Randse hospitaal geneem nadat sy haarself glo buite ʼn winkel in Randfontein aan die brand gesteek het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het omstreeks Maandag 16:10 buite ʼn winkel in Unionstraat plaasgevind. Die vrou het na bewering vir een of ander rede petrol oor haarself uitgegooi en haarself aan die brand gesteek.

“Toe paramedici by die toneel opgedaag het, het die vrou buite die winkel gesit en was sy deur omstanders omring. Sy is ondersoek en daar is bevind dat sy kritieke brandwonde aan haar gesig en kop opgedoen het,” het Meiring gesê.

Die vrou is op die toneel behandel en pynmedikasie toegedien voordat sy na die Leratong- provinsiale hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die presiese oorsaak van die voorval sal deel vorm van ʼn polisieondersoek.

Die wêreld in foto’s – 11 Julie 2017

$
0
0

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Die temperatuur in Serwië het Dinsdag tot 40 °C gestyg en warm winde in sommige gebiede veroorsaak. Dié foto is geneem by die Donaurivier in Serwië. Foto: Darko Vojinovic, AP

Did the Bear Sit under a Tree, ʼn skildery van die Amerikaanse kunstenaar Benny Andrews, is tans te sien in die Tate Modern in Londen se uitstalling Soul of a Nation. Dié uitstalling met die werk van Afro-Amerikaanse kunstenaars is tot 22 Oktober te sien. Die kunswerke in dié uitstalling is tussen 1963 en 1983 gemaak. Foto: Frank Augstein, AP

Lugaanvalle teiken Dinsdag vestings van Isis in die ou gedeelte van Mosoel ʼn dag nadat Irak se premier “volslae oorwinning” in Mosoel aangekondig het. Foto: Felipe Dana, AP

Sonneblomme in ʼn veld naby Bad Homburg in Duitsland. Foto: Michael Probst, AP

ʼn Reuse-panda-tweeling Dinsdag tydens die voering van hul eerste verjaardag in die Chongqing-dieretuin in die suidweste van China. Die twee pandas heet Yu Bao en Yu Bei. Foto: Tang Yi, Xinhua

Viewing all 56621 articles
Browse latest View live