Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

Thabazimbi-plaasaanval: Slagoffers in kluis toegesluit; vrou doodgeskiet

$
0
0

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Die polisie in Limpopo is op soek na ʼn onbekende aantal verdagtes ná ʼn plaasaanval naby Thabazimbi waartydens ʼn 59-jarige vrou doodgeskiet is.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê Magrieta Petronella Res en haar man, Bruno, het Vrydag ʼn vriendin op hul plaas, Matlopi, ontvang, en dat hulle kort hierna deur twee verdagtes oorval is. “Volgens voorlopige inligting het die verdagtes op die kluissleutels aangedring voordat hulle die egpaar en hul vriendin in ʼn instapkluis toegesluit het.”

Volgens Otto is Magrieta in die proses in die kop geskiet en haar man in die arm. Die verdagtes het glo hierna van die toneel gevlug. Die egpaar en hul vriendin was tot Saterdag omstreeks 12:00 in die kluis toegesluit voordat besoekers op die plaas opgedaag en hul hulpkrete gehoor het. Die polisie is na die toneel ontbied.

Otto het gesê polisiebeamptes het die kluis se deur oopgebreek. Magrieta het intussen reeds aan haar beserings beswyk. Volgens Otto is Bruno na ʼn hospitaal in Thabazimbi geneem vir behandeling. Die egpaar se vriendin is nie beseer nie. Otto het gesê vyf vuurwapens is tydens die aanval gesteel. Otto het ook bevestig dat ʼn verdagte in hegtenis geneem is en ondervra word. Volgens Otto is daar nie selfoonopvangs op die plaas nie.

Die Spoorsnyers, ʼn private veiligheidsmaatskappy, het intussen gesê Bruno is geskiet terwyl hy in ʼn stoel gesit en televisie kyk het. Volgens die Spoorsnyers is daar vier verdagtes waarvan een op ʼn buurplaas in hegtenis geneem is.


Beurtkragvoorspelling vir Sondag

$
0
0

Argieffoto: GCIS

Argieffoto: GCIS

Eskom het Sondagoggend gesê die risiko vir beurtkrag is laag.

“Die kragnetwerk is stabiel en daar vind nie tans beurtkrag plaas nie,” het Eskom in ʼn verklaring gesê. Volgens die kragvoorsiener was daar die afgelope 42 dae slegs een uur en 20 minute se beurtkrag en omdat dit fase 1-beurtkrag was, het 96% van Suid-Afrikaners steeds ononderbroke elektrisiteitstoevoer gehad.

“Ons het vroeër die week gewaarsku dat die kragnetwerk onder druk sal wees tot vandag, 20 September. Ons doen ʼn beroep op gebruikers om energie doeltreffend aan te wend, veral ten opsigte van lugverkoelers, geisers en swembadpompe aangesien dit baie elektrisiteit verbruik,” het Eskom gesê.

Drie vas oor dwelms

$
0
0

Die dwelms waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

Die dwelms waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

Drie buitelanders is in Bellville naby Kaapstad in hegtenis geneem vir die beweerde besit van dwelms, het die Wes-Kaapse polisie gesê.

Konst. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes het Saterdagoggend inligting opgevolg oor dwelmaktiwiteite by Parksig Villas in Bellville.

“Drie verdagtes, almal buitelanders tussen die ouderdomme van 29 en 36, is in hegtenis geneem. Daar is op verskeie dwelms, insluitend tik, dagga en kokaïen beslag gelê.”

Volgens Rwexana sal die verdagtes na verwagting Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van dwelms.

Jackie Collins sterf op 77

$
0
0

Jackie (links) en Joan Collins. Foto: AP

Jackie (links) en Joan Collins. Foto: AP

Jackie Collins, skrywer van talle topverkopers, is Saterdag in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

Sy het borskanker gehad. “Sy het ʼn wonderlike, vol lewe gehad en was geliefd by haar familie, vriende en die miljoene lesers wat sy vir langer as vier dekades vermaak het,” het haar familie in ʼn verklaring gesê. “Sy was ʼn ware inspirasie. Sy sal voortleef deur haar karakters, maar ons mis haar reeds meer as wat woorde kan beskryf.”

Collins is die suster van die bekende aktrise Joan Collins.

Sy is in 1937 in Londen gebore en haar eerste roman, The World Is Full of Married Men, is in 1968 gepubliseer. Dit is gevolg deur boeke soos The World is Full of Divorced Women (1975) en Lovers and Gamblers (1977). Haar roman Hollywood Wives is in 1983 gepubliseer en meer as 15 miljoen eksemplare daarvan is verkoop.

Collins het vroeër vandeesmaand in ʼn onderhoud met People-tydskrif gesê sy is ses jaar gelede met borskanker gediagnoseer. Sy laat drie dogters agter.

[Foto’s] Spot gedryf met Bokke ná nederlaag

$
0
0

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Sosiale media-gebruikers het nie op hulle laat wag nie ná die Springbokke se skoknederlaag van 32-34 in Saterdag se Wêreldbeker-wedstryd teen Japan.

Gemanipuleerde foto’s, of meme’s soos dit bekend staan, het kort na die wedstryd op sosiale media begin opduik.

Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter Foto: Twitter

Veiling van Zimbabwiese eiendom in Kaapstad gaan voort

$
0
0

willie-spies

Willie Spies. Foto: PretoriaFM

Internasionale regsgeskiedenis sal Maandag in Kaapstad gemaak word wanneer die eerste eksekusieveiling van ’n Zimbabwiese eiendom in Suid-Afrika plaasvind, as die regstreekse gevolg van pres. Robert Mugabe se menseregtevergrype in dié land.

AfriForum het die afgelope ses jaar ’n groep Zimbabwiese boere suksesvol bygestaan om ’n 2008-bevinding van die SAOG-tribunaal wat Mugabe se grondgrype onwettig verklaar, in Suid-Afrika af te dwing. Ná ’n vyf jaar lange regstryd gaan ’n eiendom van die Zimbabwiese regering in Salisburyweg 28, Kenilworth, Kaapstad, opgeveil word omdat die Zimbabwe-regering nagelaat het om kostebevele van die hooggeregshof, die appèlhof en die grondwetlike hof te eerbiedig.

AfriForum het ses jaar gelede begin om Zimbabwiese boere en menseregte-aktiviste in die land by te staan met ’n regstryd nadat Mugabe geweier het om gehoor te gee aan ’n bevel van die SAOG-tribunaal dat sy grondgrype onwettig en rassisties is. Die bevel is in die hooggeregshof in Pretoria geregistreer en AfriForum se prokureurs het vir die eerste keer in Maart 2010 beslag gelê op die eiendom in Kaapstad.

Ná onsuksesvolle pogings van die Zimbabwe-regering in die hooggeregshof, die appèlhof en die grondwetlike hof om die registrasie van die uitspraak in Suid-Afrika om te keer, gaan die balju van Kaapstad Maandag voort om die eiendom om 10:00 op die perseel op te veil.

Die aard van die litigasie tans het ten doel om ’n burgerlike sanksieveldtog teen menseregtevergrype in Zimbabwe op verskeie terreine aan die gang te hou.

Indien die veiling Maandag voortgaan, sal dit die eerste keer in die geskiedenis wees dat ’n uitspraak van ’n menseregtehof in Afrika lei tot die verkoop van ’n eiendom van ’n land wat hom skuldig gemaak het aan menseregtevergrype, op ’n openbare veiling deur die balju.

AfriForum staan die boere ook by in ʼn afsonderlike regsgeding teen pres. Jacob Zuma en sy ministers van justisie en van internasionale verhoudinge, weens die Suid-Afrikaanse regering se medepligtigheid aan die onwettige proses wat gelei het tot die opskorting van die SAOG-tribunaal se mag om oor menseregtevergrype teen burgers van lidstate te beslis. Die saak sal teen vroeg volgende jaar in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Ellisras-brand: Jayden sterf ook

$
0
0

Jayden en Katelint Da Costa voor die brand. Foto: Facebook

Jayden en Katelint Da Costa voor die brand. Foto: Facebook

Klein Jayden da Costa, die eenjarige seuntjie wat erge brandwonde opgedoen het toe sy ouerhuis in Ellisras in ’n brand verwoes is, is oorlede.

Jayden is Sondag omstreeks 10:10 dood nadat daar Saterdag tydens toetse vasgestel is dat hy geen meer breinaktiwiteit het nie. Jayden is Woensdagaand per helikopter van die Makweng-hospitaal in Polokwane na die Muelmed-hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

Katelint (8), Jayden se sussie, het op 10 September aan haar brandwonde beswyk. “Ek dink sy het hard baklei, maar die pyn was te veel. Sy kon nie meer uithou nie. En toe het haar hartjie gaan staan,” het Sibreena da Costa, die kinders se ma, destyds aan Maroela Media gesê.

Katelint en Jayden het vroeër die maand ernstige brandwonde opgedoen toe hul ouerhuis in Ellisras deur vlamme verwoes is. Sibreena het gesê sy het die aand omstreeks 22:00 wakkergeskrik en gesien die kamer was aan die brand.

Haar verloofde en pa het ook brandwonde opgedoen.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Katelint en Jayden Da Costa op Maroela Media.

Drie op Vrystaat-plaas doodgeskiet

$
0
0

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Man en twee kinders, onderskeidelik 11 en 15 jaar, is Saterdag op ʼn plaas in die Vredefort-distrik doodgeskiet.

Konst. Masilela Langa, woordvoerder van die polisie, het gesê Hansie Raadt, voorman op die plaas Palmietkuil, het Saterdagmiddag ʼn man en ses kinders in die dorp gaan oplaai en saamgeneem plaas toe. Raadt, die ses kinders en die ander man was almal glo omstreeks 18:00 in die kombuis besig. “Die ander man het glo die vertrek verlaat en met ʼn vuurwapen teruggekeer.”

Volgens Langa het die man Raadt en twee kinders doodgeskiet. Hy het glo hierna met Raadt se Ford Ranger-bakkie gevlug. Die bakkie is later verlate naby Kroonstad gevind. Die verdagte is Sondag omstreeks 09:00 in Kroonstad in hegtenis geneem. Die polisie ondersoek drie aanklagte van moord.


SA’ners leef nou langer, sê minister

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Jeff Radebe, minister in die presidensie, het Sondag gesê Suid-Afrikaners se lewensverwagting het oor die afgelope tien jaar toegeneem.

“Suid-Afrikaners leef langer; ʼn mylpaal wat gevier mag word,” het Radebe tydens die bekendstelling van die regering se ontwikkelingsaanwyser vir 2014 gesê. “Die toename in lewensverwagting kan toegeskryf word aan die konstante verbetering in die implementering van omvattende strategieë in die stryd teen die las van siekte, insluitend oordraagbare siektes – veral MIV/vigs en tuberkulose – en die afname in baba- en kindersterftes,” het hy gesê.

Volgens Radebe het die lewensverwagting in Suid-Afrika van 52,7 jaar in 2004 tot 61,2 jaar in 2014 toegeneem. “Kindersterftes het van 58 tot 34 sterftes per duisend lewendige geboortes afgeneem tussen 2002 en 2004.”

Die ontwikkelingsaanwysers is numeriese aanwysers van veranderinge en langtermyn-neigings in Suid-Afrika. Die aanwysers word gebruik as kriteria om vordering te meet en die regering te help om die doeltreffendheid van regeringsbeleid en ingrypings te meet in die bereiking van nasionale doelwitte op die gebied van ontwikkeling.

10 000 moet glo een kraan deel in Noordwes-dorpie

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Die gemeenskap van Kraaipan in Noordwes het glo net een kraan vir 10 000 mense, het die DA Sondag gesê.

Volgens Leon Basson, DA-LP, het die party ʼn oorsigbesoek gebring aan die gemeenskap om die lewensomstandighede van die mense in Kraaipan, sowat 70 km van Mafikeng, te bepaal. “Dit is verregaande en diep teleurstellend om langs inwoners te staan wat vir ure moet toustaan by die gemeenskaplike kraan om water in houers op te vang. Party moet die water dan vir kilometers ver dra.”

Basson het gesê partylede het ook gesien hoe skoolkinders ná ʼn lang skooldag van kraan tot kraan loop in die hoop om ʼn werkende kraan te vind. Hy het gesê in Lokaleng, deel van Kraaipan, word daar glad nie water deur die munisipaliteit verskaf nie en word inwoners glo gedwing om boorgatwater te koop teen R100 per week.

“Dit weerspieël ’n fundamentele verwaarlosing deur die regering en is ’n oortreding van grondwetlike regte. Die Ou Kraaipan-gebied het onvoorspelbare watervoorsiening – een dag aan en een dag af. In ander gebiede het inwoners ons vertel dat watertekorte so lank as twee maande op ’n slag duur wanneer die krane opdroog,” het Basson gesê.

Volgens Basson sal die DA die minister van water en sanitasie onmiddellik versoek om ’n eenheid op die been te bring om watertenks na Kraaipan te neem en ondersoek in te stel na die herstel van die pompe.

[Foto’s] Talle huise aan Vaalrivier in puin gelê

$
0
0
Foto's verskaf deur Jessica Moreira

Foto’s verskaf deur Jessica Moreira

Talle luukse huise op die oewer van die Vaalrivier aan die Vrystaatse kant is Sondag in puin gelê toe ’n brand ontstaan het.

Lt. Livhuhani Hani, woordvoerder van die polisie, het die brand bevestig en gesê daar was nog geen berigte van beserings nie. Volgens Hani se inligting het 18 huise afgebrand. Sy het gesê die brand het omstreeks 11:00 ontstaan en dat dit nog nie duidelik is wat daartoe gelei het nie.

Jessica Moreira, wat op die rivier se oewer aan die Gautengse kant in Vanderbijlpark woon, het egter aan Maroela Media gesê soveel as 20 huise kan in die brand verwoes wees. Dit is nog nie duidelik of dit private huise of vakansiehuise was nie.

Foto's verskaf deur Jessica Moreira

Foto’s verskaf deur Jessica Moreira

Volgens Moreira het hulle rook gesien waarna hulle met ʼn boot na die oorkant gevaar het om te probeer uitvind wat aangaan. Volgens Moreira was een huis aan die brand en het die huis langsaan weens die hitte ook aan die brand geslaan. “Toe het die volgende een begin brand en so het dit aangegaan. Dit was almal houthuise met grasdakke.”

Volgens Moreira kon mense wat verder rivier af woon betyds ontruim en was daar mense wat water uit die rivier gepomp het en met tuinslange die huise natgespuit het. Moreira het gesê die brand was in die omgewing oorkant Stonehaven.

Volgens onbevestigde berigte het ʼn gasbottel wat ontplof het tot die brand gelei.

Foto's verskaf deur Jessica Moreira Foto's verskaf deur Jessica Moreira Foto's verskaf deur Jessica Moreira Foto's verskaf deur Jessica Moreira Foto's verskaf deur Jessica Moreira Foto's verskaf deur Jessica Moreira Foto's verskaf deur Jessica Moreira Foto's verskaf deur Jessica Moreira

[Video] Waarskuwing oor klimaatsverandering in Afrika

$
0
0
Dr-Francois-Engelbrecht-klimaatsverandering

‘n Skermskoot uit die video.

Afrika se gemiddelde temperatuur styg vinniger as dié van enige ander vasteland. Wetenskaplikes het onlangs op ʼn konferensie in Pretoria gewaarsku dat as uitlaatgasse nie beduidend verminder word nie, dit binne ʼn eeu temperature in Afrika met 6 °C kan laat styg. Dit sal veral ʼn impak op die landboubedryf en groter brandgevare tot gevolg hê.

  • Dié insetsel is deur eNuus vervaardig. eNuus is elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

Pa, babaseun sterf in botsing

$
0
0

Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn Pa en sy twee kinders was Sondagmiddag in ʼn trompop botsing op die R31 naby Daniëlskuil in die Noord-Kaap betrokke.

Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het gesê die pa het glo met sy voertuig ʼn vragmotor verbygesteek en reg van voor teen ʼn bakkie gebots. Die pa en sy eenjarige seun is in die botsing dood. Die ander kind, ʼn driejarige peuter, is kritiek beseer.

Volgens Rossouw het die drie insittendes van die bakkie matige tot ernstige beserings opgedoen. Die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale vervoer is vir verdere mediese sorg.

Die ongeluk word ondersoek.

Foto: ER24

Foto: ER24

Drie vas ná moord tydens Bfn-inbraak

$
0
0
Die verdagtes en gesteelde goedere wat teruggevind is. Foto: SAPD

Die verdagtes en gesteelde goedere wat teruggevind is. Foto: SAPD

Drie mans is in hegtenis geneem nadat hulle die eienaar van ʼn kroeg en drie van sy werknemers oorval en een van die werknemers doodgeskiet het.

Konst. Joy Xaba, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf verdagtes het Sondag omstreeks 03:00 by die kroegeienaar se huis in Kagisanong in Bloemfontein ingebreek. Die verdagtes het glo in die huis losgebrand en ʼn 22-jarige man, wat as platejoggie by die kroeg gewerk het, doodgeskiet.

Volgens Xaba is een van die ander werknemers erg aangerand en die kroegeienaar met ʼn mes gesteek voordat die verdagtes met sleutels gevlug het. Die verdagtes het glo later teruggegaan na die kroegeienaar se huis waar hulle ʼn televisiestel, Playstation, iPad, kluis en ander huishoudelike items gesteel het.

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Die polisie het inligting opgevolg wat hulle na ʼn huis gelei het waar die gesteelde goedere gevind is. Drie verdagtes is by die huis in hegtenis geneem en daar is op die gesteelde goedere beslag gelê. Die drie verdagtes, tussen 27 en 30 jaar oud, sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en diefstal.

‘NGV sal billike mediese sorg vir almal verseker’

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

Die doel van die nasionale gesondheidsorgversekering (NGV) is om te verseker dat bekostigbare en billike mediese sorg aan almal in Suid-Afrika beskikbaar is en nie net aan diegene wat dit kan bekostig nie.

Dit was die boodskap van dr. Aquina Thulare van die departement van gesondheid tydens die jaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) in Johannesburg. Sy het ’n sleutelrol in die gebied van beleid- en wetgewende ontwikkeling sowel as die ontwikkeling van die inwerkingstellingsplan vir die NGV.

“Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel is hoogs gefragmenteer en ongelyk. Wat menslike hulpbronne betref, is die mediese beroep hoogs ongebalanseerd in die rigting van die private sektor. Meer as 60% van die armste mense in Suid-Afrika het die grootste behoefte aan gesondheidsorg, maar kry die minste van die gesondheidstelsel,” het Thulare gesê.

Sy het gesê juis daarom word die NGV in werking gestel aangesien dit regverdigheid en billikheid in gesondheidsorg in Suid-Afrika tot gevolg sal hê én verseker dat gesondheidsorg beskikbaar is vir diegene wat dit die meeste nodig het.


Trompop botsing naby Warden eis vyf

$
0
0
Die motor se wrak. Foto: Verskaf

Die motor se wrak. Foto: Verskaf

Vyf mense is dood nadat ʼn vragmotor en ʼn motor Maandagoggend op die N3-suid naby Warden in die Vrystaat reg van voor gebots het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê vyf insittendes in die motor, vier volwassenes en ʼn kind, was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.

“Die mense se liggame was in die wrak vasgekeer en moes deur die brandweer uitgesny word,” het Botha gesê.

Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie maar erg getraumatiseerd.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek.

Verdagte vas 16 jaar ná gru-moord op tienermeisie

$
0
0

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Ma van Kaapstad kan moontlik sien dat reg geskied vir haar dogter se moord nadat een van die beweerde moordenaars in hegtenis geneem is meer as 16 jaar ná haar dood.

Die 14-jarige Valencia Farmer is in 1999 dood ná ʼn gewelddadige bendeverkragting en moord wat skokgolwe deur die land gestuur het. Die Eersterivier-gemeenskap het destyds die vervalle huis waar die aanval plaasgevind het, afgebreek uit woede ná die skoolmeisie se gru-dood.

Farmer kon daarin slaag om na ’n nabygeleë pad te kruip ná die aanval en bure het haar ma geroep wat met haar hospitaal toe gejaag het. Die meisie is 53 keer met ʼn mes gesteek en is twee dae later in die hospitaal dood.

Sy het egter aan die polisie gesê wie haar aanvallers was voordat sy dood is. Daar word geglo dat sy verkrag en vermoor is deur minstens ses mans, maar slegs drie is aan die misdaad skuldig bevind.

Regter Siraj Desai het in 2001 in die hooggeregshof in Kaapstad vir Glenville “Bekkies” Faro (20) en Franklin “Franky” Roberts (19) tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis. ʼn Derde beskuldigde, wat ten tyde van die misdaad 16 jaar oud was, is tot 23 jaar agter tralies gevonnis.

Desai het tydens die wyd gepubliseerde verhoor gesê die mans het “’n orgie van geweld en seksuele brutaliteit op ʼn weerlose jong meisie losgelaat”.

Nou kan ʼn vierde verdagte moontlik vir die moord aan die pen ry. Elmario Maasdorp, wat ten tyde van die moord 19 jaar oud was, is verlede Saterdag in hegtenis geneem en sal vandag in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

Die aanklagte is destyds teen Maasdorp, ʼn lid van die sogenaamde 28’s-bende, teruggetrek weens ʼn tekort aan bewyse. Nuwe bewyse het egter aan die lig gekom en Maasdorp, nou in sy 30’s, sal weer teregstaan op aanklagte van verkragting en moord.

Die polisie glo hulle het hierdie keer genoeg bewyse om ʼn skuldigbevinding te verseker.

Nuuskommentaar: ‘Ope brief’ aan pres. Zuma

$
0
0

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma

P.a. Nkandla, Uniegebou, Parlement, China, Rusland

Geagte pres. Zuma

Dis met ’n gekweste hart dat ek die brief rig. Dít nou ná Japan se bloeisels Springbok-soesji gemaak het.

Eintlik het ek dit sien kom, en wou al voorheen skryf. Dis nou ná min. Mbalula vir die Springbokke gesê het: “Gaan mo*r hulle.” Dit was mos nie baie slim om ’n span met ou krokke, beseerdes en onervarenes te wil aanhits om ’n klomp ninjas te gaan mo*r nie, was dit? Onder die lot is genoeg wat karate, koeng foe, kennetjie en ander Oosterse gevegskunsvorme bemeester het, wat gegrond is op verskriklike vasbyt en ysere selfdissipline.

Al wat die Japanners hoef te gedoen het, was om die Springbokke die mo*rwerk te laat doen, maar self hul geheime wapen in te span – om rugby te speel.

Toe die Springbokke uiteindelik besef het hulle is met ’n slap riem gevang, was die oupas se gô uit, die jonges verward, en Japan aan die wenkant.

Boonop, danksy Tony Ehrenreich, Peter de Villiers en ’n paar ander het Heyneke Meyer die een persoon wat ’n verskil teen die Japanners kon maak, Heinrich Brüssow, met die transformasiestok gelooi. Dink net, met so ’n paar meer balle en Heinrich wat soos Adriaan Strauss en Lood de Jager sulke strooptogte op Japan se doellyn van stapel stuur, hoe anders sou sake teen die kamikazes gewees het!

Stuur asseblief dadelik Gupta Force One na Fishershaven International om vir Heinrich Engeland toe te vlieg.

Wil u nie tog maar vir Tony as afrigter van die Bafana herontplooi met die opdrag om verteenwoordigende spanne te kies nie? En vir Peter as die burgemeester van Kannaland? Mbalula sal ’n gawe minister van kommunikasie wees, veral omdat die pos wesenlik vakant is met die bestaande min. Faith wat die land lewend ontval het.

Geagte president, ek het soveel op die hart. Soos min. Rob wat die land van beleggingsgeleenthede rob. Of transformasie wat nou oorle apartheid na ’n beginnerspeletjie laat lyk.

U weet dat die kwessie van Afrikaans my baie na aan die hart lê. U weet, hoe meer ons bruin en wit jongelinge met swepe en sambokke geslaan word om Afrikaans as tersiêre opvoedkundige taal te laat vaar, hoe halsstarriger word hulle. En dit terwyl hulle eintlik net op hul grondwetlike regte aandring.

U weet, ek en u deel iets oor taal. Ek moes ook al ’n toespraak in ’n taal lewer waarvan ek min weet. Vroulief het die toespraak vir my in Suid-Sotho vertaal en met die uitsprake gehelp tot dit min of meer vlot was. Al verskil met die toesprake wat u in Engels moet lees, was dat vroulief nie so hier en daar hê, hê, hêêê ingewerk het nie.

Ek is natuurlik skaam dat ek nie Suid-Sotho magtig is nie – ek het in die Boland grootgeword en ’n bietjie Xhosa “opgedoen” deur die melkman te help om sy trollie teen Dalsig se bulte uit te stoot. Honde was ’n alewige lastigheid sodat ek gedink het hamba! beteken voertsek! Wintervakansies het ek wel ’n klompie Suid-Sotho-woordeskat opgedoen, maar vroulief spoel my mond met seepsoda uit as ek die woorde wat ek onthou, inspan. Veral as ’n mens kwaad is. Nee, geagte president, die Grondwet sê die inheemse tale, wat tog Afrikaans insluit, moet uitgebou en ontwikkel word. Nie gesloop word sodat almal behalwe die Engelssprekendes die agterstand het om in ’n tweede of derde taal in Engels te moet leer nie. “Then we will be having a problem. ’n Mo*rse big problem.

Twee ‘renosterstropers’ aangekeer

$
0
0
Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Twee vermeende renosterstropers is Sondagaand in Limpopo in hegtenis geneem.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes is op die R101 tussen Polokwane (Pietersburg) en Mokopane (Potgietersrus) in hegtenis geneem.

“Inligting is ontvang oor vermeende stropers op pad om renosters in die Mokopane-omgewing te gaan skiet en inligting oor die verdagte voertuig is uitgestuur,” het Otto Maandag gesê.

Die voertuig is deur beamptes van die provinsie se renosterstropery-taakspan opgemerk en van die pad af gedwing.

Die verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op ʼn jaggeweer, ammunisie, ʼn byl en ʼn leer.

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Polokwane-landdroshof verskyn.

Drie kinders beseer in fratsongeluk by laerskool

$
0
0

Foto: ER24

Foto: ER24

Drie kinders is Maandagoggend beseer tydens ʼn fratsongeluk by ʼn laerskool in Wartburg, KwaZulu-Natal.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het in Swayimane gebeur. Die dak van een van die klaskamers is deur ʼn sterk wind afgewaai en stukke daarvan het bo-op die kinders te lande gekom. Drie kinders, tussen sewe en 10 jaar oud, is beseer.

“Die kinders het gelukkig net geringe beserings opgedoen en nadat hulle deur paramedici ondersoek is, is hulle in die sorg van verpleegpersoneel by die plaaslike kliniek gelaat,” het Meiring gesê. Paramedici het na die skool teruggekeer om te verseker dat geen ander beserings aangemeld is nie en die toneel veilig is.

Die polisie was op die toneel om die voorval te ondersoek, het Meiring gesê.

Foto: ER24 Foto: ER24 Foto: ER24
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live