Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live

[Foto’s] Luukse sportmotor erg beskadig op N3-snelweg

$
0
0
Die motor se wrak. Foto: Rescue Care

Die motor se wrak. Foto: Rescue Care

ʼn Man in sy 20’s is Vrydag in die vroeë oggendure beseer in ʼn ongeluk op die N3-snelweg in KwaZulu-Natal waartydens ʼn silwer Jaguar XK erg beskadig is.

Volgens Garrith Jamieson, operasionele direkteur van Rescue Care-paramedici, het die ongeluk omstreeks 05:00 in die noordelike gedeelte van die snelweg naby die M13-wisselaar buite Pinetown plaasgevind.

“Die man was alleen in die voertuig toe hy beheer daaroor verloor het. Die motor het gerol en op sy wiele tot stilstand gekom,” het Jamieson gesê.

Die man het matige beserings opgedoen. Hy is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek. Dit lyk nie of daar nog ʼn voertuig in die ongeluk betrokke was nie.

Die motor se wrak. Foto: Rescue Care

Die motor se wrak. Foto: Rescue Care


Kaapstad nader waterbesparingsteiken, maar…

$
0
0
Wemmershoekdam in Desember 2016. Foto: Stad Kaapstad

Wemmershoekdam in Desember 2016. Foto: Stad Kaapstad

Die stad Kaapstad het gesê die jongste waterverbruikstatistiek dui op ʼn daling in waterverbruik oor die afgelope week, maar baie werk lê nog voor, terwyl damvlakke gedaal het.

Die algemene daaglikse verbruik, in die week van 19 tot 25 Desember, was 835 miljoen liter teenoor die teiken van 800 miljoen liter. Die stad het in ʼn verklaring gesê dit was die laagste algemene verbruik vandat vlak 3-waterbeperkings in November ingestel is.

“Indien inwoners hul waterverbruik op 800 miljoen liters ʼn dag kan hou, sal die stad se watervoorraad voldoende wees tot die volgende reënseisoen,” lui die verklaring.

Die stad het egter bygevoeg die gekombineerde omliggende damvlakke het met ʼn verdere 1.6% gedaal en staan nou op 48.1%.

Die stad het weer ʼn beroep op inwoners en besoekers gedoen om water spaarsamig te gebruik en by die beperkings te hou.

Verbruikers word aangemoedig om die webbladsy Think Water te besoek vir handige wenke.

Enige oortredings kan aangemeld word by water.restrictions@capetown.gov.za.

Voelvleidam in Desember 2016. Foto: Stad Kaapstad Theewaterskloofdam in Desember 2016. Foto: Stad Kaapstad Wemmershoekdam in Desember 2016. Foto: Stad Kaapstad

Vrou se lyk in erf gekry

$
0
0
Argieffoto

Argieffotomis

Die liggaam van ʼn 33-jarige Vrystaatse vrou is Donderdag in die vroeë oggendure met kopwonde in haar erf aangetref.

“Die Tseki-polisie is omstreeks 02:00 na die huis ontbied in die Phamong-informele nedersetting in QwaQwa,” het sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, Vrydag gesê.

“Die vrou se liggaam met steekwonde is buite haar huis gevind. Haar man het die polisie vertel hy het omstreeks middernag by die huis aangekom en gevind die huis se deur is oop. Die man het beweer hy het gedink sy vrou was nie by die huis nie en was verras toe hy haar dood buite die huis aangetref het.”

Mophiring het gesê die polisie het bewyse in die huis gevind wat die vrou se 42-jarige man moontlik met haar moord verbind. Die polisie het beslag gelê op die bewyse en die man in hegtenis geneem.

Hy moet op 3 Januarie in die Tseki-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Die motief vir die moord is onbekend en word ondersoek.

Genl.maj. Peter Moloi, bevelvoerder van die Phuthaditjhaba-polisiëringsgebied, het gesê die polisie ervaar ʼn toename in moordsake in die QwaQwa-gebied weens alkoholmisbruik.

Chinese lanterns hou reddingswerkers besig

$
0
0
Foto: Via NSRI

Foto: Via NSRI

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ʼn beroep op die publiek en vakansiegangers gedoen om nie Chinese lanterns die lug in te stuur nie, aangesien die instituut dit verkeerdelik as ʼn noodgeval kan beskou.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê buiten die feit dat Chinese lanterns ʼn brandgevaar inhou, veral in die huidige droë toestande, word die lanterns gereeld vir rooi noodfakkels aangesien.

“Die NSRI het al verskeie kere gereageer nadat die publiek ʼn noodfakkel aangemeld het en dan was dit eintlik ʼn Chinese lantern,” het hy gesê.

Hy het gesê elke keer as ʼn ooggetuie langs die kuslyn ʼn noodfakkel aanmeld, stuur die nooddienste dadelik ʼn soek-en-reddingsoperasie van stapel.

“Self al is dit vermoedelik ʼn Chinese lantern, sal die operasie voortduur totdat daar bevestig kan word dat geen persoon of seevaartuig in die moeilikheid is nie,” het hy gesê.

Man vas vir Kroonstad-vrou se moord

$
0
0
Engelé Rossouw (regs) saam met haar sussie Zanelle Wessels (links) en hul ma (Foto verskaf aan Maroela Media)

Engelé Rossouw (regs) saam met haar sussie Zanelle Wessels (links) en hul ma (Foto verskaf aan Maroela Media)

ʼn 28-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op Engelé Rossouw (47), die bestuurder van die Shalom-gastehuis in Kroonstad, wat vroeër vandeesweek dood aangetref is in haar ouerhuis in dié Vrystaatse dorp.

Sers. Sam Gaobepe, woordvoerder van die polisie in Kroonstad, het aan Maroela Media gesê die polisie het dag en nag gewerk om alle leidrade na te spoor en die man is Vrydagoggend, net ná middernag, in Maokeng in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig Engelé het saam met haar ma in die huis gewoon, waar haar ouers al meer as 45 jaar lank bly.

Engelé se suster, Zanelle, het Woensdag aan Maroela Media gesê haar ma het Vrydagaand nog met haar sussie gesels. “Ons het die Saterdagmiddag ʼn SMS vir haar gestuur, maar niks van haar gehoor nie. Ek het haar die aand ook probeer bel, maar kon nie antwoord kry nie. Toe ons Sondagoggend nie ʼn ‘geseënde Kersfees’-SMS van haar ontvang nie, het ons onraad vermoed en die polisie in kennis gestel,” het Zanelle verduidelik.

Haar ma is vir die vakansie saam met Zanelle en haar gesin na hul strandhuis in Groot-Brakrivier in die Wes-Kaap. “Engelé kon nie saamkom nie. Sy wou in Kroonstad bly om na die gastehuis om te sien.”

Veiligheidswagte by die munisipaliteit in Mahokeng het intussen Sondag onraad vermoed oor ʼn wit Volkswagen Jetta wat by die kantoor geparkeer is.

“Die polisie het bevestig dit is my ma se motor en hulle wou die motor insleep na die polisiestasie om verder ondersoek in te stel en vingerafdrukke te neem. Hulle is na die huis om die motor se sleutel te gaan haal en het met ons toestemming by die huis ingebreek om die sleutel te kry. Daar het hulle op my sussie se liggaam afgekom.”

Rossouw se liggaam in die bad gevind. Sy het ʼn plastieksak oor haar kop gehad en is vermoedelik daarmee versmoor.

Volgens Zanelle het Engelé haar pajamas aangehad en haar hande en voete was ook vasgebind. “Die polisie beskryf dit as ʼn ‘skoon’ moord. Daar was geen geforseerde toegang nie en die moordenaar het weer alles na die tyd toegesluit. Omdat sy ook meer as 24 uur in die badwater was, is die meeste van die leidrade ook uitgewis.”

Twee selfone en twee skootrekenaars is gesteel.

Die gesin het Donderdag ʼn roudiens vir Engelé in Suiderkruis in Groot-Brakrivier gehou, aangesien al die familie daar was.

Die verdagte moet Dinsdag in die Kroonstad-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Die Koonstad-buurtwag het almal wat betrokke was by die ondersoek bedank vir die lang ure se werk.

Paramedici red katjie uit enjin

$
0
0
Sokkies by sy nuwe 'mamma'. Foto: Nercare 911

Sokkies by sy nuwe ‘mamma’. Foto: Nercare 911

ʼn Babakat is Donderdag tydens ʼn regstreekse televisienuusuitsending op Margate se strand gered.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê ʼn nuusspan van eNCA was by die suidkusdorp om oor vakansieverwante nuusgebeure te berig, toe Netcare 911 se stasiebestuurder, Craig Botha, die katjie se noodkrete uit die nuusspan se voertuig gehoor het.

“Paramedici het onder die voertuig ingekruip en na ʼn ruk agtergekom die katjie is naby die enjin. Na ʼn gespook is die katjie deur die enjinkap gered,” het Botha gesê.

Die kat was ongedeerd. ʼn Paramedikus van Netcare 911 het die katjie aangeneem en Sokkies gedoop.

Rower skiet makker per ongeluk dood ná inwoner terugveg

$
0
0
Argieffoto: Kent Williamson

Argieffoto: Kent Williamson

Vier rowers se planne, om by ʼn huis aan die buitewyke van Kaapstad in te breek, is in die wiele gery toe die huiseienaar een van hulle oorweldig het en sy medepligtige dié glo per ongeluk doodgeskiet het.

“Die eienaar van die huis in Crossroads het geslaap toe hy omstreeks 01:00 iemand in sy kombuis hoor loop het. Hy het gaan ondersoek instel en op ʼn onbekende man afgekom, met wie hy in ʼn geveg betrokke geraak het,” het kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, Vrydag gesê.

Die huiseienaar het die verdagte oorweldig, waarna die verdagte om hulp geroep en nog drie verdagtes hul opwagting gemaak het.

Een van die verdagtes het op die huiseienaar geskiet, maar die medepligtige, met wie hy gestoei het, getref. Die verdagte is op die toneel dood.

“Twee van die verdagtes is ook tydens die voorval gewond en een is ongedeerd. Die gewonde verdagtes is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem. Die ander verdagte is in hegtenis geneem.”

Die polisie het op twee vuurwapens beslag gelê.

“Een van die vuurwapens behoort aan die verdagte wat sy medepligtige geskiet het en die ander vuurwapen aan een van die ander verdagtes. Die vuurwapens sal vir ballistiese toeste gestuur word om te bepaal of dit in ander misdrywe gebruik is.”

Drie verdagtes sal na verwagting op 3 Januarie in die Athlone-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, huisroof en die besit van onwettige vuurwapens.

[Foto’s] ‘Hoë-impak-botsing’ eis vier

$
0
0
'n Foto van die toneel. Foto: Netcare 911

‘n Foto van die toneel. Foto: Netcare 911

Vier mense, waaronder twee kinders, is dood en ses beseer, nadat twee voertuie Vrydag op die N3-snelweg buite Harrismith in die Vrystaat gebots het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici van Netcare 911 was omstreeks 18:30 onder weg na Johannesburg met ʼn pasiënt, toe hulle sowat 3 km buite die dorp op die ongelukstoneel afgekom het.

“Twee voertuie het trompop gebots en die een voertuig se wrak en wrakstukke wat wydverspreid op die toneel gelê het, was ʼn aanduiding van ʼn hoë-impak-botsing. Die ander wrak is ʼn ent van die pad af in die veld op sy dak aangetref,” het Botha gesê.

Paramedici het die beseerdes ondersoek. “Twee klein kinders en twee volwassenes was ongelukkig reeds dood. Drie mense het kritieke beserings opgedoen en drie is ernstig beseer.”

Paramedici van verskeie ambulansdienste het saam gewerk om die mense te stabiliseer voordat hulle na nabygeleë hospitale geneem is.

Die polisie ondersoek die presiese oorsaak van die ongeluk.

'n Foto van die toneel. Foto: Netcare 911

‘n Foto van die toneel. Foto: Netcare 911


[Foto’s] Veiligheidsbeamptes red hondjie uit vlammehel

$
0
0
Die Jack Russel-tefie sterk aan in die dierehospitaal. Foto: Marshall Security

Die Jack Russel-tefie sterk aan in die dierehospitaal. Foto: Marshall Security

ʼn Jack Russel-tefie is van ʼn gewisse branddood gered, toe ʼn veiligheidsbeampte sy lewe gewaag het om die hond uit ʼn brandende huis te red.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê veiligheidsbeamptes en die brandweer is Vrydag omstreeks 17:30 na ʼn huis in Sunningdale, in die noorde van Durban, ontbied waar ʼn brand gewoed het.

“Dit lyk asof die brand in die motorhuis ontstaan het, waarna dit na ʼn woonstel bo-op die motorhuis versprei het,” het Van Reenen gesê.

“ʼn Buurman het die nooddienste laat weet ʼn hondjie is op die eiendom vasgekeer. ʼn Beampte van Marshall Security het oor die heining aan die agterkant gespring en kon die hond, wat brandwonde opgedoen het en duidelik in nood was, opspoor.”

Die beseerde hond is in ʼn badhanddoek van een van die bure toegedraai. Die hond is oor die muur getel en in ʼn reaksievoertuig van die veiligheidsmaatskappy na ʼn nabygeleë veearts by die Ashburne-dierehospitaal gehaas.

“Volgens die veearts het die hond eerstegraadse brandwonde opgedoen. Die hond was ook erg geskok en het moontlik koolstofmonoksiedvergiftiging opgedoen. Sy is in ʼn ernstige, maar stabiele toestand,” het Van Reenen gesê.

Brandbestryders kon die brand onder beheer bring voordat dit na die hoofhuis versprei het. Die oorsaak van die brand is nie bekend nie en word ondersoek.

Geen ander beserings is aangemeld nie. Dit is nie dadelik bekend waar die inwoners was nie.

Brandbestryders op die toneel. Foto: Marshall Security Brandbestryders op die toneel. Foto: Marshall Security Brandbestryders op die toneel. Foto: Marshall Security Brandbestryders op die toneel. Foto: Marshall Security Die Jack Russel-tefie sterk aan in die dierehospitaal. Foto: Marshall Security Brandbestryders op die toneel. Foto: Marshall Security

Drie kinders verdrink in Kaapstad

$
0
0
Argieffoto: Marianne Styan

Argieffoto: Marianne Styan

Drie kinders het Vrydagaand in twee afsonderlike voorvalle in Kaapstad verdrink.

Vaughn Seconds, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Strandfontein, het gesê die polisie se duikeenheid het verskeie nood-en-reddingsdienste omstreeks 18:55 na die Sandvlei-monding by Muizenberg-strand ontbied, waar twee kinders verdrink het.

“Volgens ʼn ooggetuie het vier seuns in die water by die R310-brug geswem. Dieselfde ooggetuie het later opgemerk twee van die kinders dryf onder die water. Iemand het glo gesien hoe een van die vier wegry op ʼn fiets,” het Seconds gesê.

Dit was nie duidelik waar die ander kind was nie en die polisie se duikeenheid, NSRI-bemanning en ander nooddienste het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur om die moontlikheid uit te sluit dat nóg kinders in die groep moontlik verdrink het.

Seconds het gesê die kinders se liggame is aan die polisie oorhandig. Hul identiteite was teen Vrydagaand nog nie vasgestel nie en geen familielede opgespoor nie.

Volgens die Wes-Kaapse nooddienste is die seuns vermoedelik tussen 15 en 16 jaar oud.

In die ander voorval het ʼn tweejarige kind verdrink in die Fresnaye-omgewing van die stad.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê geen inligting oor die verdrinking is bekend nie, aangesien die kind se familie die kind in ʼn private voertuig na ʼn hospitaal geneem het. Paramedici van Netcare 911 het die voertuig onderweg na die hospitaal ingehaal en bystand verleen.

“Die kind was bewusteloos en paramedici het dadelik begin om noodhulp toe te pas. Die kind is in ʼn ambulans na die hospitaal geneem terwyl paramedici aangehou het met resussitasiepogings. Ongelukkig, ten spyte van alle pogings, is die kind met aankoms by die hospitaal dood verklaar.”

Die Kaapstad-polisie doen geregtelike doodsondersoeke.

[Foto’s] Danabaai-brand sorg vir benoude oomblikke

$
0
0
Brandbestryders op die toneel in Danasbaai. Foto: Via Facebook

Brandbestryders op die toneel in Danabaai. Foto: Via Facebook

ʼn Verwoestende veldbrand het inwoners van Danabaai in die Wes-Kaap en talle vakansiegangers die afgelope twee dae benoud gelaat, maar danksy uitstekende rampsbestuur het die brand tot geen lewensverlies of ernstige skade aan eiendom gelei nie.

Nickey le Roux, nuusredakteur van die plaaslike koerant, Mosselbaai Bay Advertiser en inwoner van Danabaai wat deurlopend oor die toestand daar berig, het Saterdag aan Maroela Media gesê die brand het Donderdagmiddag tussen Pinacle Point en Danabaai uitgebreek.

“Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie en word ondersoek. Baie bespiegeling doen die rondte, maar nog niks is konkreet bewys nie,” het sy gesê.

Sy het gesê ʼn noodoperasionele sentrum is op die been gebring en puik samewerking tussen die brandweer, ander nooddienste, owerhede en gemeenskap het daartoe gelei dat die toestand heeltyd onder beheer was.

“Daar was egter benoude oomblikke toe Floraweg, die enigste toegangsroete, noodgedwonge twee keer vir verkeer gesluit moes word. Inwoners en besoekers kon vir sowat twee tot drie ure nie in en uit die dorp kom nie.  ʼn Vrou moes mediese behandeling vir asma ontvang en vakansiegangers moes by die lughawe uitkom, maar die buurtwag het ingespring en ʼn tweespoorpaadjie deur die veld beskikbaar gestel sodat dié mense by die N2-snelweg kon uitkom.”

Die verwoestende brand is Donderdag en Vrydag met lugsteun van twee vastevlerkvliegtuie en twee helikopters beveg, wat die brand sover moontlik by knelpunte bestry het, terwyl grondspanne plek-plek gespook het om die vlamme onder beheer te kry.

Le Roux het gesê buiten talle hektaar fynbos en bome wat beskadig is, is eiendom nie erg beskadig nie. “Die brand het in ʼn stadium naby huise, ʼn vulstasie en aftree-oord gekom, maar weereens het die rolspelers uitstekende werk verrig en die brand gekeer.”

Sy het gesê sy is bewus van slegs een huis waarvan die ruite gekraak het weens die hitte.

Thys Giliomee, Mosselbaai se munisipale bestuurder, het Saterdag aan Maroela Media gesê die brand is sover onder beheer, alhoewel dit nog nie heeltemal onder bedwang gebring is nie.

“Grondspanne is nog in die omgewing en die gebied word steeds gemonitor. Dit het in ons guns getel dat die wind weg van die bewoonde gebied gedraai het,” het Giliomee gesê.

“Die feit dat daar geen skade aan geboue of lewensverlies was nie, word grootliks toegeskryf aan ʼn gemeenskap wat saam gestaan het met ʼn uitstekende brandweerspan,” het hy gesê.

Giliomee het gesê brandbestryders is al van voor Kersdag besig om sporadiese brande in die gebied te beveg en werk hard regdeur die dag en nag.

Die oorsaak van die brande word ondersoek.

Hou Mossel Bay Advertiser se Faceboek-blad dop vir die jongste inligting oor die veldbrand.

Die brand by Danabaai. Foto: Via Facebook Die brand by Danabaai. Foto: Tersia Marais Die brand by Danabaai. Foto: Via Facebook Die brand by Danabaai. Foto: Via Facebook Brandbestryders op die toneel in Danabaai. Foto: Via Facebook Die brand by Danabaai. Foto: Via Facebook Die brand by Danabaai. Foto: Via Facebook Die brand by Danabaai. Foto: Via Facebook

Vyf nou vas vir Kaapstad-polisieman se moord

$
0
0
Ao Dion Juan Gaston Dumas (57), gestasioneer by Malmesbury-polisiestasie

Ao Dion Juan Gaston Dumas (57), gestasioneer by Malmesbury-polisiestasie

Altesaam vyf mense, ʼn minderjarige seun, twee vroue en twee mans, gaan verhoor word in verband met die moord op ao. Dion Dumas (57), van die Malmesbury-polisiestasie, wat op Oukersdag vir die laaste keer lewend gesien is.

Maroela Media het vroeër berig Dumas is Saterdagmiddag weg om ʼn geskenk by sy ma se dokter af te laai. Volgens die dokter is hy omstreeks 16:00 daar weg. Dumas is egter nie daarna weer gesien nie en hy is as vermis aangemeld.

Sy liggaam is Dinsdag in ʼn verlate gebou gevind. Hy is aan onnatuurlike oorsake dood.

Die polisie het Dinsdag ook Dumas se motor, ʼn wit BMW 318, teruggevind. Die verdagte wat die motor bestuur het, is in hegtenis geneem, wat tot die inhegtenisneming van die ander verdagtes gelei het.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê altesaam drie mense, twee vroue, onderskeidelike 29 en 31 oud en ʼn 31-jarige man, is Dinsdag in hegtenis geneem.

“Die kantoor kan bevestig nóg twee verdagtes, ʼn 24-jarige man en ʼn 14-jarige seun, is Woensdag in hegtenis geneem.”

Die verdagtes het almal reeds Donderdag in die Atlantis-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Die saak is agter geslote deure aangehoor, aangesien een van die beskuldigdes minderjarig is. Die saak is tot volgende week uitgestel, wanneer hulle na verwagting sal aansoek doen om borgtog. Hulle bly in aanhouding.

Hengeluitstappe eindig tragies vir 70-jarige

$
0
0
Storm_see_rotse_golwe_boekevat_ChristoBrits.jpg

Argieffoto: Christo Brits

ʼn 70-jarige man van Constantia in Kaapstad het Vrydag in ʼn fratsongeluk gesterf terwyl hy gaan hengel het.

Darren Zimmerman, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Simonstad, het gesê nood-en-reddingsdienste is omstreeks 17:00 na Rooikrans by Kaappunt, suid van Buffelsbaai, ontbied, nadat berigte ontvang is dat ʼn hengelaar van die rotse af geval het.

“NSRI-bemanning, paramedici en hul toerusting is met ʼn seevaartuig na die kuslyn geneem waar die man geval het. Die man het tussen 7 en 8 meter ver geval en op die rotse beland,” het Zimmerman gesê.

Die man was in ʼn kritieke toestand toe paramedici by hom uitgekom het en sy hart het kort daarna gaan staan.

“Kardio Pulmonêre Resussitasie (KPR) is dadelik toegepas, maar ten spyte van alle pogings om die man by te bring, is hy op die toneel dood.”

Die man se liggaam is na die strand geneem en aan die forensiese patologiedienste oorhandig.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Man, bejaarde sterf ná trok omslaan

$
0
0
Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24er24 par

Twee mense, waaronder ʼn bejaarde vrou, is dood en die vrou se dogter kritiek beseer, toe ʼn vragmotor Vrydag in KwaZulu-Natal omgeslaan het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die bestuurder van die trok na bewering beheer oor die voertuig verloor, waarna dit op die R617 naby Impendle omgeslaan het.

“Paramedici van ER24 is na ʼn plaaslike kliniek ontbied waarheen al drie insittendes van die vragmotor gehaas is met ʼn private voertuig,” het Meiring gesê. Die man het egter reeds aan sy beserings beswyk en paramedici het hom dood verklaar.

“Die bejaarde vrou en haar dogter was in ʼn kritieke toestand en is dadelik behandel. Die bejaarde vrou is in ʼn ambulans van ER24 na ʼn hospitaal geneem en haar dogter deur die provinsiale ambulansdienste.”

Meiring het gesê die bejaarde vrou se toestand het onderweg na die hospitaal verswak en ten spyte van alle pogings om haar te red, is sy met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

Die dogter is in ʼn kritieke toestand opgeneem.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

Seun (9) verdrink in Meyerton-swembad

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Negejarige seun is dood nadat hy Vrydagmiddag in ʼn swembad by ʼn huis in Meyerton in Gauteng verdrink het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici en beamptes van die Midvaal-brandweer is na die huis in Dinsdalestraat ontbied, waar die seun langs die swembad gelê het.

“Na verneem word het die seun se familielede na hom begin soek, aangesien hy vir ʼn ruk lank weg was. Hy is later op die bodem van die swembad aangetref en dadelik uitgehaal,” het Meiring gesê.

Paramedici het die seun, wat geen tekens van lewe getoon het nie, ondersoek. Hulle het dadelik begin noodhulp toepas en nagenoeg ʼn uur lank gepoog om hom by te kry, maar dit was tevergeefs.

Hy is op die toneel dood verklaar en die polisie is ontbied vir verdere ondersoek.


Talle sakeondernemings moet skuif ná Durban-wolkekrabber vlamvat

$
0
0
Die brand by die gebou wat algemeen bekend staan as 320 West Street (28 Desember 2016) (Foto: Rescue Care)

Die brand by die gebou wat algemeen bekend staan as 320 West Street (28 Desember 2016) (Foto: Rescue Care)

Altesaam 25 sake-ondernemings moet geskuif word nadat ʼn brand Woensdag die 25ste verdieping van ʼn Durbanse wolkekrabber verwoes het.

Urban Lime Properties, ʼn stedelike herlewingsmaatskappy en eienaar van die gebou, Redefine Towers, wat algemeen bekend staan as 320 West Street, het Saterdag in ʼn verklaring gesê die brand het 5 000 vierkante meter se eiendom beskadig.

Katie Freidman, die maatskappy se hoof van mediabetrekkinge, het gesê die gebou is van die 23ste tot die 26ste verdieping beskadig.

Die 25ste verdieping het brandskade opgedoen, terwyl die twee verdiepings daaronder waterskade en die 26ste verdieping rookskade opgedoen het.

“Die vloere het sowat 25 verskillende sake-ondernemings gehuisves, insluitende die kantore van Urban Lime Properties, wat heeltemal verwoes is. Al die ondernemings sal na ander vloere in die gebou geskuif word,” het sy gesê.

Johnny Friedman, uitvoerende hoof van die maatskappy, het gesê spanne werk al om die uur om so gou as moontlik alternatiewe ruimte te vind vir die ondernemings wat geraak is.

“Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar forensiese kenners fynkam steeds bewyse voordat hulle ʼn volledige verslag uitreik,” het hy gesê.

Klik hier vir meer foto’s van die brand.

Jong vrou sterf in Limpopo-ongeluk

$
0
0
Die motor se wrak. Foto: ER24

Die motor se wrak. Foto: ER24

ʼn Jong vrou is dood en sewe mense beseer, nadat ʼn motor Vrydagaand verskeie kere buite Tzaneen in Limpopo gerol het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die bestuurder het vermoedelik beheer oor die motor verloor, waarna dit die R71-pad verlaat en verskeie kere gerol het.

“Paramedici van ER24 het die motor op sy dak aan die kant van die pad aangetref. Plaaslike nooddienste was reeds daar besig om die mense te ondersoek,” het hy gesê.

Die jong vrou, vermoedelik tussen 18 en 20 jaar oud, se liggaam is later ʼn paar meter van die motor se wrak aangetref. Sy het met haar gesig na onder op die grond gelê.

“Sy het verskeie noodlottige beserings opgedoen. Paramedici kon ongelukkig niks vir haar doen nie en sy is op die toneel dood verklaar. Sewe ander pasiënte is op die toneel behandel vir geringe tot matige beserings.”

Die mense is op die toneel behandel en na die Letaba provinsiale hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Seun (2) tydens kapingspoging in Pta in kop geskiet

$
0
0
Die seun is met 'n helikopter van Netcare 911 na ʼn hospitaal geneem. Foto: Verksaf

Die seun is met ‘n helikopter van Netcare 911 na ʼn hospitaal geneem. Foto: Verksaf

ʼn Tweejarige seun is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal geneem nadat hy Saterdag, kort voor middernag, tydens ʼn vermeende kapingspoging in Olievenhoutbosch in Centurion in die kop geskiet is.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê dit het omstreeks 22:50 gebeur.

“Volgens inligting van die toneel, is die kind tydens ʼn mislukte kapingspoging in sy kop geskiet. Die ma het aangehou ry en gestop toe sy ʼn ambulans langs die pad sien staan,” het Botha gesê.

Paramedici van verskeie nooddienste het hard gewerk om die seun te stabiliseer. Hy is met ʼn helikopter van Netcare 911 na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Sy toestand was nie Sondagoggend dadelik bekend nie.

‘Kersvader’ skiet 39 dood in Istanbul-nagklub

$
0
0
Nooddienste op die toneel by die nagklub. Foto: Via BBC

Nooddienste op die toneel by die nagklub. Foto: Via BBC

Minstens 39 mense is dood en 69 beseer in ʼn aanval in die vroeë oggendure op ʼn nagklub in Istanboel in Turkye.

Die aanvaller was glo geklee in ʼn kersvaderpak toe hy op mense in die Reina-nagklub in die Besiktas-gebied losgebrand het. Hy het glo Arabies gepraat en ʼn aanvalsgeweer gebruik.

Vasip Sahin, die goewerneur van Istanboel, het die voorval as ʼn terreurdaad bestempel.

Volgens die nuusagentskap Reuters soek die polisie nog na skieter.

[Foto’s] Nuwejaar van regoor die wêreld begroet

$
0
0

Feesgangers van regoor die wêreld het 2017 verwelkom met die geknetter vuurwerk en harde juigkrete en terselftertyd totsiens gesê aan ʼn jaar wat gevul was met politieke verrassings, langdurige konflikte en die dood van ʼn paar geliefde kunstenaars.

Hier is tien van AP Photos se mooiste kiekies van feestelikhede wêreldwyd.

Vuurwerke bo die Arc de Triomphe in Parys, Frankryk (AP Photo/Christophe Ena) Vuurwerke in Singapoer se finansiële distrik (AP Photo/Wong Maye-E) Noord-Koreane kyk na ʼn vuurwerkvertoning by die Kim Il Sung Square in Pyongyang, Noord-Korea (AP Photo/Kim Kwang Hyon) Vuurwerke bo die Sydney-operahuis in Sydney, Australië (AP Photo/Rick Rycroft) Mense met fakkels in Istanbul se Ortakoy-distrik (AP Photo/Emrah Gurel) Vuurwerke in Rome (AP Photo/Domenico Stinellis) ʼn Vrou op Times Square in New York (AP Photo/Julio Cortez) Mense in die see by Rio de Janeiro in Brazil (AP Photo/Leo Correa) Vuurwerke agter Big Ben in Londen (AP Photo/Frank Augstein) Vuurwerke by die Kremlin in Moskou, Rusland (AP Photo/Denis Tyrin)
Viewing all 56621 articles
Browse latest View live