Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, het Maandag ontken dat sy strafregtelike aanklagte teen haar voorganger, Thuli Madonsela, aanhangig gemaak het oor opnames wat uitgelek het wat met die staatskaping-verslag verband hou.
“Dit is nie waar dat adv. Mkhwebane aanklagte teen haar voorganger aanhangig gemaak het nie,” het haar kantoor in ʼn verklaring gesê. “Sy het wel ʼn saak by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aanhangig gemaak en versoek dat die beweerde uitlek van die opnames ondersoek moet word, om te bepaal of dit neerkom op ʼn oortreding van artikel 7(2) van die Wet op die Openbare Beskermer.”
Volgens die verklaring het Mkhwebane besluit om ʼn saak te maak ná klagtes ontvang is van die presidensie en die kantoor van die speaker van die nasionale vergadering.
Kragtens artikel 7 (2) van die Wet op die Openbare Beskermer mag niemand inligting, bewyse of getuienis bekend maak tensy die openbare beskermer opdrag gee nie.
Madonsela het erken dat sy die klankopname tussen haarself en pres. Jacob Zuma, wat in haar staatskaping-verslag geïmpliseer word, uitgelek het. Weens regstappe deur Zuma, is die verslag egter eers vrygestel nadat Mkhwebane die leisels by Madonsela oorgeneem het.
Mkhwebane het gesê nog ʼn publikasie het navraag gedoen wat beweer dat hy opnames het van Madonsela se onderhoud met die voormalige ANC-LP, Vytjie Mentor.
Volgens die nuwe openbare beskermer is sy besorg dat die inligting wat uitgelek het, ernstig die vertroue kan skend wat die publiek in haar kantoor het. “Om die geloofwaardigheid van die openbare beskermer te behou en vir die mense om die instansie te vertrou, moet ons bewyse en getuienis, wat persone, insluitend fluitjieblasers, aan ons verskaf, beskerm.”