’n Vroeë skildery van die Nederlandse skilder, Rembrandt van Rijn, wat verlede jaar by ’n veiling in die VSA opgeduik het, is nou positief geïdentifiseer as die skildery, Die reuk, wat Rembrandt op ongeveer 19-jarige ouderdom geskilder het. Die skildery was deel van ‘n groep wat die vyf sintuie uitbeeld.
In die skildery word ’n pasiënt uit ‘n floute bygebring met ’n lappie wat in ammoniak gedoop is.
Die vorige eienaar, van New Jersey, het geen benul oor die herkoms en waarde van die skildery gehad toe hy dit op ’n veiling te koop aangebied het nie. Die afslaer het dit Europese skool, van die 19e eeu, genoem.
Die prys het egter die hoogte begin inskiet op die veiling en dit was duidelik dat van die kopers snuf in die neus gekry het oor die waarde.
Die skildery is, nadat dit gerestoureer is, nou in Maastricht, Nederland, te sien, maar daarna sal die nuwe eienaar dit na New York neem waar dit sy volwaardige plek saam met ander werke van Europese meester-fynskilders sal inneem.
Volledige artikel, Trouw