
Kapt. Kenneth Poortman Foto: Kenneth Poortman, Facebook
Een van die vier mans wat beskuldig word van die moord op polisiekaptein Kenneth Poortman van Pretoria, is onwettig in Suid-Afrika, het die Pretoriase landdroshof Dinsdag gehoor.
Leonie Els, regshulpprokureur, het aan hooflanddros Desmond Nair gesê Steven Meda, ʼn Zimbabwiër, gaan sy aansoek om borgtog laat vaar, aangesien hy ʼn onwettige immigrant is. Sy het gesê hy het vlugtelingstatus versoek, maar die departement van binnelandse sake het hom afgekeur. “Hy het verlede jaar ʼn brief ontvang dat sy aansoek afgekeur is,” het sy gesê.
Die drie ander beskuldigdes, Sipho Alfred Tlou, Thabo Mampa en Themba Mbowane het aan die hof gesê hulle beplan om formeel aansoek te doen om borgtog wanneer hul saak Maandag hervat.
Maroela Media het vroeër berig ʼn prokureur wat die drie Suid-Afrikaners verteenwoordig het, het aan die hof gesê hy kan hulle nie meer verteenwoordig nie, aangesien hulle hom nie kan betaal nie.
Regshulpprokureurs is toe ingeroep om die vier mans by te staan.
Die vier staan tereg op aanklag van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Nair het aan die beksuldigdes gesê dit gaan ʼn yslike taak wees om die hof te oorreed om hulle vry te laat op borgtog. Hy het gesê hulle word beskuldig van ernstige aanklagte en die moord van ʼn wetstoepasser en indien hulle skuldig bevind word, sal hulle lewenslange tronkstraf opgelê word.
Staatsaanklaer Sipho Letsoalo is gereed om met die saak voort te gaan en hy gaan borgtog teenstaan.
ʼn Tolk is ontbied om Meda in Shona by te staan, aangesien hy “net ʼn bietjie” Engels verstaan.
Die vier het na bewering die 47-jarige Poortman in die middestad van Pretoria gekaap, hom in die bolyf gesteek, en langs Theo Martinweg in Mabopane afgelaai. Hulle het glo sy vuurwapen gesteel en met sy motor na Winterveld gery waar Tlou, Mampa en Mbowane in hegtenis geneem is. Poortman se vuurwapen en motor is glo in hul besit gevind.
Poortman was getroud met nog ʼn polisiebeampte, ao Ann Poortman, die woordvoerder vir Pretoria-Sentraal-polisie. Sy is na die misdaadtoneel ontbied om inligting in te samel vir die media toe ʼn liggaam op 27 Desember gevind is. Sy het eers ontdek dit is haar man toe sy die liggaam langs die pad in Mabopane geïdentifiseer het.
Lees alle vorige berigte oor Kenneth Poortman op Maroela Media.