
Argieffoto: www.safaribill.com
Edwin Hewitt (49), Hendricks Johannes Blignaut (41) en John Herbert Pretorius (49), almal van Limpopo, is met R330 000 elk beboet. Hul straf behels ook dat hulle hul twee voertuie en 29 swartwitpense, ter waarde van sowat R4 miljoen, aan die staat oorhandig.
Die drie mans het glo ná twee jaar se onderhandelinge die swartwitpense in Zambië gekoop, waarna hulle die bokke in September vanjaar in Zimbabwe gaan oplaai het. Die voertuie wat gebruik is om die bokke te vervoer, het egter in modder naby Beitbrug vasgeval toe hulle die grens na Suid-Afrika probeer oorsteek het.
Die mans is ook daaraan skuldig bevind dat hulle die grens by ʼn onregmatige punt probeer oorsteek het. Die beskuldigdes is aanvanklik borgtog geweier, maar is Maandag vrygelaat nadat hulle gevonnis is.
Theo Bronkhorst, die Zimbabwiese jagter wat wyd opslae gemaak het in verband met die jag op Cecil die leeu, is ook in hegtenis geneem in verband met die Suid-Afrikaners se aankoop van die swartwitpense.
Hy het glo die aankoop in Zambië gereël en die swartwitpense na Zimbabwe vervoer, waar die Suid-Afrikaners die bokke opgelaai het. Sy saak word apart aangehoor.