
Die foto is digitaal gemanipuleer om die seuntjie, skool en werker se identiteite te beskerm. Foto: Facebook
ʼn Foto van ʼn naakte seuntjie wat glo by ʼn kleuterskool met ʼn tuinslang afgespuit word in die snerpende winterkoue, het sosialemediaverbruikers warm onder die kraag.
Annelie Nel (52) van Rustenburg het die foto op Facebook gelaai. Sy het Dinsdag aan Maroela Media gesê die foto is Maandag by ‘n kleuterskool en speelpark in dié Noordwes-dorp geneem.
“Ek en ‘n kollega wat ʼn onderwyseres is, was oor middagete na ‘n veiling buite die dorp. Ons kon egter nie die plek opspoor nie en het by die kleuterskool stilgehou om vir aanwysings te vra.”
Nel verduidelik sy was besig om aanwysings te kry toe haar kollega gesien het hoe die seuntjie, glo drie jaar oud, uitgetrek word en met ʼn tuinslang natgespuit word en huilend daar moes bly staan het. ʼn Tuinier het dit glo laggend aanskou. Die onderwyseres het toe die foto geneem en Nel van die voorval ingelig.
Nel het dadelik begin om die skoolbestuur te probeer opspoor en die voorval aan te meld. Sy verduidelik hulle kon nie dadelik tot die seun se redding kom nie, aangesien dit aan die agterkant van die skool se perseel was wat met groot elektriese heinings omhein is.
“Ek het die eienaar van die perseel opgespoor waarvan die vrou wat die kleuterskool besit ʼn huurder is en hom daarvan ingelig. Ek het daarna die foto op sosiale media geplaas met die hoop om die kind se ouers op te spoor sodat hulle weet wat daar gebeur het.”
Nel het gesê sy het ʼn groot passie vir kinders en diere en sal alles in haar vermoë doen, selfs in ʼn hof getuig om te sorg dat geregtigheid geskiet. Haar plan het gewerk en die ouers is vinnig opgespoor.
“Die kleuterskool se eienaar het my Maandagaand gebel. Ek het in daardie stadium gaste gehad en ons kon nie behoorlik praat nie. Sy het onderneem om my Dinsdag te skakel, maar sy het nie.”
Dit het intussen aan die lig gekom dat die driejarige seun glo sy klere bevuil het. Die skool het die seun se ma omstreeks 12:30 laat weet. Die kind het glo nie skoon klere by hom gehad nie en sy moes klere skool toe neem. Nel het gesê hulle het omstreeks 12:50 die beweerde voorval aanskou.
Volgens Nel is die seuntjie se ouers ontstoke en het hulle hul kinders uit die skool gehaal. Hulle oorweeg ook hulle verdere stappe. Nel gaan later Dinsdag met hulle ontmoet om die kwessie te bespreek en bewyse te oorhandig.
Maroela Media het die kleuterskool gebel vir kommentaar. Die eienaar het geweier om telefonies kommentaar te lewer. Sy het ‘n onderhoud in persoon versoek. Maroela Media kon haar sedertdien na verskeie pogings nie in die hande kry om ’n datum vir die vergadering vas te stel nie.
Die kleuterskool se naam word vir eers weerhou om al die partye kans te gee om te reageer.