Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

[Foto’s] Heilbron loop wéér onder brandstigters deur

$
0
0
Foto: Dawie Fourie

Foto: Dawie Fourie

Nege voertuie is Maandagaand op verskeie plekke op Heilbron in die Vrystaat aan die brand gesteek.

Ao. Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het daarvan gehoor toe een van die eienaars van die voertuie die saak aangemeld het. “Teen daardie tyd het die vlamme reeds ses voertuie verswelg,” het Mohobeleli gesê.

Polisie, inwoners en brandweermanne het saam gespook om die vlamme te blus, het hy gesê.

René Fourie, ʼn inwoner en onder-voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê die grootste skade is by Alida Broodryk (65) en haar gesin se huis aangerig, waar vier voertuie en motorhuise uitgebrand is. Die voertuie is glo aan die brand gesteek deur lappe en olie te gebruik wat in die motorhuise was.

Foto: Dawie Fourie

Foto: Dawie Fourie

Nog twee voertuie is by die Trio-woonstelle in die dorp aan die brand gesteek deur moppe te gebruik wat op die toneel was, asook nog twee voertuie in inwoners se erwe. “Net toe ons vanoggend dink dinge is nou rustig, toe brand ʼn minibustaxi wat aan ʼn Pakistani-man behoort,” het Fourie gesê.

Sy het gesê die plekke waar die brande gestig is, is oor die hele dorp versprei.

Volgens Fourie is dit vir inwoners ʼn reuse probleem dat die dorp nie ʼn brandweerstasie het nie en dat hulle afhanklik is van Frankfort se brandweer om hulle te help. “Heilbron het net ʼn waterkar en geen brandweerwaens nie. Sedert 2012 is hier gereeld brande in die dorp, maar die Ngwathe-munisipaliteit weier om brandweerwaens te verskaf. Hoe lank moet dit nog aangaan? Tot die hele dorp afgebrand het?,” het sy gevra.

Foto: Dawie Fourie

Foto: Dawie Fourie

Mohobeleli kon nie bevestig of die saak verband hou met ʼn voorval in April toe die Heilbron-stadsaal aan die brand gesteek is en heeltemal deur vlamme verwoes is nie. “Die polisie kon nog nie ʼn verband tussen die twee sake vind nie en die motief vir die brandstigting is nog onbekend,” het hy gesê.

ʼn Saak van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Foto: Dawie Fourie Foto: Dawie Fourie Foto: Dawie Fourie Foto: Dawie Fourie Foto: Dawie Fourie Foto: Dawie Fourie

Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Latest Images