ʼn 10-jarige seun is Vrydagmiddag omstreeks 15:00 in Laer Pleinweg in Kaapstad geskiet tydens ʼn vermeende padwoedevoorval.
“Die 10-jarige is beseer toe ʼn vuurwapen afgegaan het tydens ʼn onderonsie tussen drie mans,” het lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media bevestig. “ʼn Taxi en ʼn sekuriteitsvoertuig was glo in ʼn botsing betrokke. Die bestuurder en een van sy insittendes in die taxi het uitgeklim om die veiligheidswag te konfronteer. Die mans het begin stry en die vuurwapen het afgegaan.”
Volgens Traut duur die ondersoek voort. “’n 37-jarige verdagte is in hegtenis geneem,” het hy bevestig. “Hy verskyn Maandag in die hof op aanklag van poging tot moord.”
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die kind is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.